[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Nazca-lyne

Koördinate: 14°43′S 75°08′W / 14.717°S 75.133°W / -14.717; -75.133
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Lyne en geogliewe van
die Nazca- en Palpa-kultuur
*
Unesco-wêrelderfenisterrein

'n Lugfoto van een van die Nazca-lyne wat in Julie 2015 geneem is. Dit wys die ontwerp bekend as "Die Aap".
Ligging van Nazca-lyne op 'n kaart (Peru)
Nazca-lyne
Nazca-lyne
Ligging van die Nazca-lyne in Peru.
Koördinate: 14°43′S 75°08′W / 14.717°S 75.133°W / -14.717; -75.133
Lande Vlag van Peru Peru
Tipe Kultuur
Kriteria i, iii, iv
Verwysings 700
Streek Suid-Amerika
Koördinate 14°43′S 75°08′W / 14.717°S 75.133°W / -14.717; -75.133
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 1994  (18de Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.

Die Nazca-lyne is 'n groep geogliewe wat in die grond van die Nazca-woestyn in Suid-Peru gemaak is.[1] Hulle is tussen 500 v.C. en 500 n.C. deur mense gemaak wat uithollings in die woestynvloer gemaak het; hulle het klippies verwyder en grond van verskillende kleure ontbloot.[2] Daar is twee hooffases van Nazca-lyne, die Paracas-fase van 400 tot 200 v.C. en die Nazca-fase van 200 v.C. tot 500 n.C.[3] In die jare voor 2020 is tussen 80 en 100 nuwe figure met die hulp van hommeltuie ontdek, en argeoloë dink daar is nog.[4]

Die meeste lyne loop reguit deur die landskap, maar daar is ook figuratiewe ontwerpe van diere en plante. Die individuele figuratiewe geogliefontwerpe is tussen 400 en 1 100 m breed. Die lengte van al die lyne saam is meer as 1 300 km en die groep bedek 'n oppervlakte van sowat 50 km2. Die lyne is gewoonlik 10-15 cm diep. Hulle is gemaak deur die boonste laag rooibruin klippies met 'n ysteroksiedlaag om te verwyder en 'n geelgrys grond daaronder te ontbloot.[5][2] Die lyne se breedte verskil aansienlik, maar meer as die helfte is effens breër as 33 cm.[1][6] Op sommige plekke is hulle net 30 cm breed en op ander plekke tot 1,8 m.[1]

Van die Nazca-lyne het vorms wat die beste uit die lug gesien kan word (op 'n hoogte van omtrent 500 m), hoewel hulle ook van die omringende voorheuwels en ander hoë plekke te sien is.[7][8][9] Die ontwerpe bestaan gewoonlik uit een aaneenlopende lyn. Die lyn van die grootstes is omtrent 370 m lank.[5] Danksy die afsondering en die droë, windlose klimaat van die plato, het die lyne meestal natuurlik bewaar gebly. Uiters skaars weersveranderings kan die ontwerpe van die lyne tydelik verander. Teen 2012 is gesê die lyne gaan agteruit weens die instroming van plakkers na die gebied.[10]

Die ingewikkeldheid van die lyne varieer. Honderde is eenvoudige lyne en geometriese patrone; meer as 70 is diere-ontwerpe, soos 'n kolibrie, spinnekop, vis, kondor, aap, kat, hond en 'n mens. Ander vorms sluit in bome en blomme.[2] Geleerdes verskil oor die betekenis van die ontwerpe, maar die meeste heg godsdienstige betekenisse daaraan.[11][12][13][14] Die ontwerpe is in 1994 aangewys as 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Antropoloë, etnoloë en argeoloë het die antieke Nazca-kultuur bestudeer om die doel van die lyne en figure te probeer bepaal. Een hipotese is dat die Nazca-volk hulle geskep het om deur die gode in die lug gesien te word.

Paul Kosok en Maria Reiche het 'n doel voorgestel wat verband hou met sterrekunde en kosmologie, soos wat algemeen was in die monumente van ander antieke kulture: Die lyne was bedoel as 'n soort sterrewag, om te wys na die plekke aan die verre horison waar die son en ander hemelliggame met die sonstilstande opkom en ondergaan. Ander inheemse volke in die Amerikas en elders het strukture gebou wat sulke sterrekundige waarnemings gekombineer het met hulle godsdienstige kosmologie, soos die Cahokia van die laat Mississippium en Stonehenge in Engeland.

Gerald Hawkins en Anthony Aveni, kundiges op die gebied van argeoastronomie, het in 1990 tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie genoeg bewyse is om so 'n sterrekundige verduidelik te staaf nie.[15]

Alberto Rossell Castro (1977) het 'n veeldoelige funksie voorgestel. Hy het die geogliewe in drie groepe verdeel: Die eerste groep het gelyk soos spore wat verband hou met besproeiing en landverdeling; die tweede groep was asse wat met grondhope en klipstapels verband hou; en die derde groep het hy verbind met sterrekundige vertolkings.[16]

In 1985 het die argeoloog Johan Reinhard data gepubliseer wat toon dat die aanbidding van berge en ander waterbronne van die antieke tot latere tye in die Nazca-godsdiens en -ekonomie oorheers het. Sy teorie was dat die lyne en figure deel was van godsdienspraktyke en die aanbidding van gode wat met die beskikbaarheid van water te doen het, want dit het regstreeks 'n invloed gehad op die sukses en produktiwiteit van gewasse. Hy het die lyne vertolk as heilige paaie wat gelei het na plekke waar die gode aanbid kon word. Die ontwerpe van diere en ander voorwerpe was om die hulp van die gode af te bid met die verskaffing van water.

Henri Stierlin, 'n Switserse kunshistorikus wat in Egipte en die Midde-Ooste gespesialiseer het, het in 1983 'n boek gepubliseer wat die Nazca-lyne verbind het met die vervaardiging van antieke tekstiele wat argeoloë om mummies van die Paracas-kultuur gekry het.[17] Hy het tot die gevolgtrekking gekom die lyne kon as reuseweefstoele gebruik gewees het om die uiters lang stringe en breë stukke tekstiel te vervaardig wat tipies van die streek is. Dié teorie word nie algemeen aanvaar nie.

Die eerste stelselmatige studie van die geogliewe is deur Markus Reindel en Johny Cuadrado Island gedoen. Hulle het sedert 1996 meer as 650 terreine ondersoek en uitgegrawe. Hulle het die ikonografie van die lyne vergelyk met potskerwe van die kulture. As argeoloë glo hulle die figuratiewe motiewe van die geogliewe is waarskynlik tussen 600 en 200 v.C. gemaak.[18]

Beelde

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 Sebastian Dorsch; Jutta Vinzent (2017). SpatioTemporalities on the Line: Representations-Practices-Dynamics. Walter de Gruyter GmbH & Co KG. pp. 97–. ISBN 978-3-11-046578-5.
  2. 2,0 2,1 2,2 "Nazca Lines". Guía Go2peru (in Engels). 22 Februarie 2017. Besoek op 29 Oktober 2018.
  3. Centre, UNESCO World Heritage. "Lines and Geoglyphs of Nasca and Palpa". UNESCO World Heritage Centre (in Engels). Besoek op 20 Februarie 2022.
  4. Jones, Sam (18 Oktober 2020). "Huge cat found etched into desert among Nazca Lines in Peru". the Guardian. Besoek op 26 Maart 2021.
  5. 5,0 5,1 Glomb, Jason (8 November 2010). "Nasca Lines". National Geographic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2019.
  6. Anthony F. Aveni (1990). The Lines of Nazca. American Philosophical Society. ISBN 9780871691835.
  7. Gardner's Art Through the Ages: Ancient, medieval, and non-European art. Harcourt Brace Jovanovich; 1991. ISBN 978-0-15-503770-0.
  8. Hinman, Bonnie (2016).Mystery of the Nazca Lines. ABDO; ISBN 978-1-68077-242-5. pp. 6–.
  9. Anthony F. Aveni (2000). Between the Lines: The Mystery of the Giant Ground Drawings of Ancient Nasca, Peru. University of Texas Press. ISBN 978-0-292-70496-1. pp. 88–.
  10. Taj, Mitra (15 Augustus 2012). "Pigs and squatters threaten Peru's Nazca lines". Reuters. Besoek op 15 Augustus 2012.
  11. Helaine Selin (2013). Nature Across Cultures: Views of Nature and the Environment in Non-Western Cultures. Springer Science & Business Media; ISBN 978-94-017-0149-5. pp. 286–.
  12. Richard A. Freund (2016). Digging Through History: Archaeology and Religion from Atlantis to the Holocaust. Rowman & Littlefield. ISBN 978-1-4422-0883-4. pp. 22–.
  13. Mary Strong (2012). Art, Nature, and Religion in the Central Andes: Themes and Variations from Prehistory to the Present. University of Texas Press. ISBN 978-0-292-73571-2. pp. 33–.
  14. Religion and the Environment. Palgrave Macmillan UK; 2016. ISBN 978-0-230-28634-4. pp. 110–.
  15. Cameron, Ian (1990). Kingdom of the Sun God: A History of the Andes and Their People. New York: Facts on File. p. 46. ISBN 0-8160-2581-9.
  16. Rossel Castro, Albert (1977) Arqueología Sur del Perú, Lima: Editorial Universo
  17. Stierlin (1983)
  18. Reindel and Wagner, 2009

Skakels

[wysig | wysig bron]