[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

William Lawrence Bragg

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
William Lawrence Bragg

William Lawrence Bragg (31 Maart 1890, Adelaide1 Julie 1971, Waldringfield) was 'n Britse wiskundige en fisikus.

In 1915 het hy saam met sy pa William Henry Bragg die Nobelprys vir Fisika ontvang vir hul werk saam in X-straaldiffraksie op kristalle. Op 25 jaar oud was hy die jongste Nobelpryswenner ooit, en een van die min wat 50 jaar later ’n herdenking kon vier nadat hy die prys ontvang het.

Biografie

[wysig | wysig bron]

William Lawrence Bragg was die seun van William Henry Bragg en Gwendoline Todd. Na St. Peter's College studeer hy wiskunde aan die Universiteit van Adelaide, waar sy pa 'n professor was. In 1908 ontvang hy sy baccalaureusgraad met die hoogste lof. Kort daarna het sy pa 'n professoraat aan die Universiteit van Leeds aanvaar en die Bragg-gesin het na die Verenigde Koninkryk verhuis. Daar het Lawrence sy studies aan Trinity College, Cambridge, voortgesit. Hy het aanvanklik wiskunde gestudeer, maar hy het na fisika oorgeskakel. Sy onderwysers het Joseph John Thomson sowel as sy pa ingesluit. Twee jaar later behaal hy sy meestersgraad in fisika.

In 1912 – terwyl hy 'n navorsingstudent aan Cambridge was – ontdek hy die wet, wat na hom genoem is, oor die diffraksie van X-strale deur kristalle.[1] Hierdie wet, wat gegrond was op Max von Laue se baanbrekerswerk oor X-straalkristallografie, verduidelik hoe kristalle X-strale teen spesifieke invalshoeke verstrooi. Deur saam met sy pa te werk, het hy hierdie navorsing voortgesit van 1912 tot 1914. Die resultaat is in 1915 gepubliseer in die werk X-Rays and Crystal Structure.[2] Met behulp van X-straaldiffraksietoetse kon hulle onder meer die tetraëdriese kristalmodel van diamante bevestig.

In 1919 is Bragg aangestel as Langworthy Professor in Fisika aan die Victoria Universiteit van Manchester en van 1938 tot 1953 Cavendish Professor in Fisika aan die Universiteit van Cambridge. Terselfdertyd was hy direkteur van die Cavendish-laboratorium, wat Ernest Rutherford opgevolg het. In 1921 trou hy met Alice Grace Jenny Hopkinson, en saam het hulle vier kinders gehad: seun David William, dogter Margaret Alice, dogter Patience Mary en seun Stephen Lawrence.

Die Royal Institute Kerslesings

[wysig | wysig bron]

Later in sy lewe het Bragg 'n gewilde wetenskaplike populariseerder geword. By die Royal Institution of London het hy klasse vir skoolkinders gereël en het hy gereeld op televisie verskyn. Hy het drie keer by die Royal Institution Christmas Lectures gepraat: in 1931 (The Universe of Light), 1934 en 1961 (albei kere oor elektrisiteit).

Erkenning

[wysig | wysig bron]

Bragg se ontdekking van X-straaldiffraksie het fisici vir die eerste keer van 'n tegnologie voorsien wat hulle in staat gestel het om die interne struktuur van materie te sien. In 1953 is die dubbelhelikale struktuur van DNS toegelig met behulp van X-straaldiffraksie. Lawrence Bragg het verskeie toekennings vir sy werk ontvang, waaronder die Nobelprys vir Fisika (1915), die Matteucci-medalje (1915), die Hughes-medalje (1931), die Koninklike Medalje (1946) en die Copley-medalje (1966). In 1941 is hy tot ridder geslaan en is toegelaat om sir by sy naam te voeg.

Die Australiese Instituut vir Fisika het 'n jaarlikse prys vir studente, die "Bragg Gold Medal for Excellence in Physics", lank na die dood van William Lawrence Bragg ingestel.

Boeke

[wysig | wysig bron]
  • X-Rays and Crystal Structure (1915, met William Henry Bragg)
  • The Structure of Silicates (1930)
  • The Crystalline State (1934)
  • Electricity (1936)
  • Atomic Structure of Minerals (1937)
  • The Development of X-Ray Analysis (1975)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. W.H. Bragg, 1912, X-rays and Crystals, Nature, volume 90, bl. 219, doi 10.1038/090219a0.
  2. X-Rays and Crystal Structure, G.Bell and Sons Ltd, Londen