[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Dawid

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Dawid
Koning van Israel
Koning Dawid, skildery deur Gottlieb Welté
Dinastie Huis van Dawid
Bewind ca. 1010–970 v.C.
Gebore ca. 1040 v.C.
Gesterf ca. 970 v.C.
Jerusalem
Voorganger Saul Isboset
Opvolger Salomo
Gade Michal, Ahinoam, Abigail, Maachah, Haggith, Abital, Eglah, Bathsheba
Kinders Amnon, Chileab, Absalom, Adonijah, Shephatiah, Ithream, Shammua, Shobab, Nathan, Salomo, Ibhar, Elishua, Nepheg, Japhia, Elishama, Eliada, Eliphalet, Tamar
Vader Jesse
Moeder Nitzewet (Talmoed)

Dawid (Hebreeus: דָּוִד, Davīd; moontlike betekenis: "geliefde een"[1]) was die derde koning van Israel en het 40 jaar lank regeer. Hy was die uitstekendste koning van Israel, en was volgens die Bybel 'n regeerder na God se hart. Hy word uitgebeeld as heldhaftig en oordeelkundig in oorlog, 'n versiende en omsigtige regeerder in vredestyd en die grootste digter van sy tyd.[2] Hy het die grondslag vir die Huis van Dawid gevestig wat tot in die Nuwe Testament van die Bybel deurslaggewend gebly het.

Dawid onderskei hom reeds as jong seun toe hy Goliat, die trotse Filistynse teenstander, neervel. Ook sy siterspel bring hom onder koning Saul se aandag, wat hom in sy hofhouding opneem en as militêre aanvoerder aanstel. Dawid se roem maak die koning afgunstig, sodat hy uit die hof moet vlug. By die Grot van Adoelam smee Dawid 400 uitgewekenes in 'n bende saam, wat later tot 600 sou aangroei. Dié bende voer bloedige strooptogte op die volk se vyande uit, terwyl hulle Saul en sy landgenote waar moontlik vermy. Eindelik moet hy Juda tog verlaat, en maak dan 'n bestaan as onderhorige van die Filistynse koning van Gat.[2]

Ná die veldslag by Gilboa waar Jonatan sneuwel en Saul selfmoord pleeg, word Dawid koning oor Juda by Hebron, waar hy sewe en 'n half jaar regeer. Met die dood van Saul se oorlewende seun Isboset word Dawid koning oor die hele Israel. Hy val die outonome vesting Jebus (Jerusalem) binne en vestig sy vorstehuis op die heuweltop Sion, van waar hy 32 jaar regeer. Hy laat ook die verbondsark na die hoofstad bring waar dit op Moriaberg, die ligging van die latere Tempel, onder 'n tent staan. Die Filistyne, Moabiete, Arameërs, Edomiete en Ammoniete word in kort opeenvolging onderwerp, sodat die landstreek van die Egiptiese grens tot aan die Eufraat aan hom onderhorig word. Wanneer Absalom en Adonija opmerk hul vader se kragte kwyn, lei hulle onsuksesvolle opstande in sy laaste regeringsjaar.[2] Dawid is in die koningstad begrawe en opgevolg deur sy seun Salomo.

Dawid en Saul[3]

[wysig | wysig bron]

Dawid word deur Samuel gesalf tot koning[4]

[wysig | wysig bron]

Soos Saul voor hom, ontvang Dawid geestelike krag saam met die salwing. God kies weereens sy man en berei hom voor lank voordat hy 'n nasionale figuur word.

Dawid vind 'n plek aan die hof[5]

[wysig | wysig bron]

Wanneer die Gees van God Saul verlaat, neem bose magte van hom besit. Saul is oorgelewer aan sy eie onbeheersde temperament. Hy word oorval deur aanvalle van diepe neerslagtigheid en gewelddadigheid. Maar Dawid se musiek met die harp verdryf die donker skaduwees, en Saul se behoefte word Dawid se geleentheid.

Dawid en Goliat[6]

[wysig | wysig bron]

Die Filistynse kampioen was sowat 3 meter lank, ten volle bewapen en gepantser. Maar gedurende sy tyd in die heuwels saam met die skape het Dawid geloof geleer en dodelike akkuraatheid met die slingervel. Dawid dood Goliat met die slingervel en kap sy kop af.

Dawid se vriendskap met Jonatan; Saul word jaloers[7]

[wysig | wysig bron]

Dawid sou later aan sy vriendskap met Jonatan terugdink as een van die kosbaarste dinge van sy lewe.[8] Niks kon die wonderlike band verbreek die seun van die koning en die man wat hom, menslik gesproke, van die troon sou beroof nie.

Met Dawid se prestige groei ook Saul se agterdog en hy beplan Dawid se dood. Dawid se armoede gee Saul die geleentheid om van hom 'n bruidskat te eis wat hom waarskynlik sy lewe sal kos. So 'n prys kon net geëis word van die Filistyne, die Israeliete se aartsvyande; terwyl die ander volke besnydenis toegepas het. Dawid maak dubbel soveel mense dood as wat Saul vereis het, en keer ongedeerd terug om sy koninklike bruid op te eis.

Aanslae op sy lewe dwing Dawid om die hof van Saul te verlaat[9]

[wysig | wysig bron]

Jonatan se eerste versoeningspoging slaag,[10] maar Saul verval weer in 'n slegte bui en net Mikal se bedrog kan vir Dawid red.[11] Dawid sluit 'n tyd lank by Samuel se profeteskool in Rama aan.[12] Toe Jonatan 'n veilige terugkeer vir Dawid probeer bewerkstellig, draai sy vader teen hom.[13] Die twee vriende word gedwing om afskeid te neem.[14]

Agimelek help Dawid om te ontsnap[15]

[wysig | wysig bron]

Die priester sou duur betaal vir Dawid se bedrog.[16] Maar Dawid word gevoed en bewapen en ontsnap na die Filistynse stad Gat. Uit vrees dat hy herken sal word gee hy voor dat hy kranksinnig is en speel hy sy rol so goed dat Akis heeltemal oortuig word.[17] Nob[18] was destyds die sentrale heiligdom van Israel. Gewyde brood:[19] elke sabbat is 12 vars brode op die altaar geplaas en die 12 ou brode is verwyder. Net die priesters is toegelaat om hulle te eet.

Dawid die uitgewekende[20]

[wysig | wysig bron]

Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Grot van Adoelam toe. Sy broers en hele familie het daarvan gehoor en na die grot gegaan.

Verder het elkeen wat in die moeilikheid was en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer 400 man by hom. Daarvandaan het Dawid na Mispa in Moab gegaan en vir die koning van Moab gevra:

"Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen".

Dawid het hulle in die sorg van die koning van Moab gelaat. Hulle het by hom aangebly solank as wat Dawid in die bergskuiling was. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê:

"Jy mag nie in die skuiling bly nie. Trek weg en gaan na Juda toe".

Dawid het toe na die Geredbos gegaan.

Saul laat die priesters van Nob doodmaak[21]

[wysig | wysig bron]

Saul het 85 priesters laat doodmaak, omdat Agimelek vir Dawid gehelp het.

Abjatar vlug na Dawid[22]

[wysig | wysig bron]

Abjatar, 'n seun van Agimelek het ontkom en na Dawid gevlug en hy was veilig by Dawid.

Dawid bevry Keïla[23]

[wysig | wysig bron]

Dawid vorm sy groep vlugtelinge tot 'n doeltreffende militêre mag. Maar Saul se voortgesette agtervolging dwing hulle om voortdurend op die vlug te bly. Dawid en sy manne bevry Keïla.

Abjatar raadpleeg die Here vir Dawid[24]

[wysig | wysig bron]

Dawid het daarvan te wete gekom dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê:

"Bring die skouerkleed hier".

Dawid sê toe:

"Here God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is. Sal die regeerder van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here God van Israel, lig my tog in".

En die Here antwoord:

"Ja hy sal optrek".

Toe vra Dawid:

"Sal die regeerder van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?"

Die Here antwoord hom toe:

"Ja".

Dawid en sy ongeveer 600 manne, het klaar gemaak, uit Keïla gegaan en heen en weer rondgetrek. Daar is ook aan Saul vertel dat Dawid uit Keïla onttrek het en Saul het sy agtervolging gestaak. Daarna het Dawid in die woestyn in 'n bergskuiling gaan woon. Hy het in die berge van die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie. Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goressa in die Sifwoestyn.

Dawid en Jonatan vernuwe hul verbond[25]

[wysig | wysig bron]

Jonatan, seun van Saul, het toe klaargemaak en na Dawid toe by Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God. Hy het vir hom gesê:

"Moenie bang wees nie, want my pa sal jou nie in die hande kry nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal onder jou staan. Selfs my pa weet dat dit so is."

Hulle twee het toe 'n verbond voor die Here gesluit. Dawid het in Goresa aangebly en Jonatan het huistoe gegaan.

Siffiete verklap Dawid[26]

[wysig | wysig bron]

Die Siffiete het vir Saul vertel dat Dawid in Goressa skuil. Dit is aan Dawid vertel en hy het na die kliprand in die Maonwoestyn gegaan. Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan en Dawid en sy manne aan die ander kant.

Net toe Saul en sy manskappe Dawid-hulle omsingel, kry Saul 'n boodskap dat die Filistyne Israel aanval.

Saul het opgehou om Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Hulle noem hierdie plek skeidingsrand.

Dawid spaar Saul se lewe in die spelonk by En-Gedi[27]

[wysig | wysig bron]

Saul is aan Dawid uitgelewer. Dawid se weiering om kortpad te kies na die troon bring Saul tot sy sinne.

Maar 'n mens kan nie op Saul se woord staat maak nie.

Dawid en Abigajil[28]

[wysig | wysig bron]

Dawid se versoek aan Nabal is nie onredelik nie. Hy eis nie beskermingsgeld nie, maar vra iets in ruil vir die verlede. Die man was ryk en dit was skeertyd, 'n tyd van feesviering.

Abigajil se vinnige optrede red die lewens van haar man en huishouding. Sy het klaarblyklik 'n goeie indruk op Dawid gemaak.

God sien toe dat Nabal gestraf word. Hy sterf aan 'n dubbele beroerte. Dawid is reeds met Ahinoam getroud, maar neem nou ook Abigajil as vrou. Sy eerse vrou was Michal, dogter van Saul, maar sy is deur Saul aan 'n ander man, Palti, gegee.

Dawid spaar weer Saul se lewe[29]

[wysig | wysig bron]

Die Siffiete wat aan Saul se kant was, verskaf inligting oor waar Dawid hom bevind. Weereens bevind Saul homself oorgelewer aan die genade van Dawid. Maar Dawid weet dat God hom sonder enige hulp van sy kant op die troon sal plaas.

Abisai...seun van Seruja:[30] Abisai, Joab en Asael, Dawid se militêre leiers, was almal die seuns van Dawid se stiefsuster. Hoewel hulle dapper was, het hulle baie probleme veroorsaak toe hy koning was.[31]

Dawid skaar hom by Akis[32]

[wysig | wysig bron]

Akis word weereens om die bos gelei. Terwyl hy voorgee om 'n strooptog op Israel en sy bondgenote uit te voer, is Dawid in werklikheid besig om die vyandelike stede uit te wis, en hy laat geen oorlewendes na om die verhaal te vertel nie.

Wantroue teenoor Dawid[33]

[wysig | wysig bron]

Die ander Filistynse opperhere is nie so liggelowig soos Akis nie. Dawid ontkom uit 'n moeilike situasie waarin hy sy landgenote sou moes aanval.

Hierdie hoofstuk verwys na gebeure vroeër as die in hoofstuk 28.

Die Amalakiete se aanval op Siklag; Dawid se suksesvolle teenaanval[34]

[wysig | wysig bron]

Dawid keer op die regte tyd terug, en die slaaf se inligting is meer as net 'n gelukskoot. Alles word teruggevind. Juda en die Kalebiete wat ook slagoffers van die inval was, deel ook in die buit.

Dawid se eerste bewindjare[35]

[wysig | wysig bron]

Die nuus van Saul se dood; Dawid se klaaglied[36]

[wysig | wysig bron]

Die Amalekiet se verhaal verskil van die verslag van Saul se dood in 1 Sam. 31. As hy die feite verdraai het in die hoop om 'n beloning te ontvang, het hy hom met Dawid misreken. Na die inval in Siklag[37] het Dawid geen rede gehad om die Amalekiete lief te hê nie, maar hy was daarvan oortuig dat die lewe van 'n koning heilig is. Die Amalekiet het self sy doodsvonnis uitgespreek. Die klaaglied vir Saul en Jonatan is een van die ontroerendste van al Dawid se gedigte. Sy rou vir die koning lyk heeltemal opreg. Sy leed oor sy vriend Jonatan is diep en innig.

Burgeroorlog. Abner dood Asael.[38]

[wysig | wysig bron]

Net Juda (wat teen hierdie tyd waarskynlik Simeon ingesluit het), erken Dawid as koning. Die ander 10 stamme volg die leiding van Abner, Saul se leëraanvoerder, en hang Is-Boset, Saul se seun, aan. Die volk is vir twee jaar verdeeld. 'n Poging by Gibeon om die geskil deur verteenwoordigende tweegevegte te skik,[39] misluk en 'n volskaalse burgeroorlog breek uit. Na agter toe:[40] Abner het nie bedoel om Asael dood te maak nie. Maar die agterpunt was skerp sodat dit in die grond sou steek, en die stamp was noodlottig.

Dawid se koningskap word al hoe sterker[41]

[wysig | wysig bron]

Daar was 'n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid, maar Dawid word gaandeweg sterker en die nageslag van Saul al hoe swakker.

Dawid se seuns wat in Hebron gebore is[42]

[wysig | wysig bron]

Daar is vir Dawid 6 seuns in Hebron gebore, onder andere Salomo.

Abner breek met Is-Boset[43]

[wysig | wysig bron]

Abner het probeer om sy posisie in Saul se huis te verstewig deur 'n byvrou van Saul, naamlik Rispa dogter van Aja, te trou. Toe Is-Boset vir Abner daaroor aanspreek besluit Abner om sy kragte by Dawid in te gooi.

Abner onderhandel met Dawid[44]

[wysig | wysig bron]

Abner sluit 'n verdrag met Dawid dat Abner, in ruil vir sy lewe, sal sorg dat die hele Israel vir Dawid sal volg. Abner vertrek onverhinderd.

Joab vermoor Abner[45]

[wysig | wysig bron]

Joab en sy broer Abisai het Abner doodgemaak omdat hy sy broer Asael tydens die oorlog in Gibeon doodgemaak het. Dawid gaan die volk voor in rou oor Abner. Ten spyte van 'n openbare verklaring van onskuld het die klad van die moord Dawid lewenslank bygebly.[46]

Die sluipmoord op Is-Boset[47]

[wysig | wysig bron]

'n Tweede voorval vind plaas wat toon hoe Dawid se ondersteuners glad nie sy houding teenoor Saul en die koninklike gesin verstaan het nie. Is-Boset word eervol begrawe en die 2 moordenaars word in die openbaar tereggestel.

Dawid se koninkryk word bevestig[48]

[wysig | wysig bron]

Dawid koning van die hele Jerusalem; Jerusalem word die nuwe hoofstad[49]

[wysig | wysig bron]

Die skrywer stel dit duidelik dat Dawid nie 'n indringer was nie. Sy aanspraak op die troon was van God. 'n Feit wat erken is deur Saul,[50] Abner[51] en ook deur die hele volk.[52]

Hoewel Jerusalem gedeeltelik tydens die inname van Kanaän deur Juda verower is,[53] is die vesting self nooit verower nie.[54] Die Jebusiete het rede gehad om te spog dat 'n garnisoen van blindes en kreupeles Jerusalem kon verdedig, maar hulle het Dawid onderskat. Juda het Jerusalem beheer totdat Nebukadnesar dit 400 jaar later verwoes het.

Koning Hiram van Tirus, 'n tydgenoot van Dawid en Salomo, het vanaf ongeveer 979 vC regeer. Die hawestad Tirus was die hoofstad van die Fenisiese koninkryk. Hiram se regeringstyd was 'n goue era van politieke uitbreiding en handelswelvaart. Die ambagte en die kunste het floreer. Hiram se vakmanne het gehelp met die bou van die tempel. Die ark word na Jerusalem gebring[55] nadat die Filistyne dit teruggegee het.[56] Dawid maak Jerusalem sy nuwe hoofstad. Die geleentheid word gekenmerk deur al die uitbundigheid van die Joodse godsdiensfeeste. Selfs die koning dans van vreugde. Net Mikal staan eenkant, koud en onaangeraak. Ussa gaan na die ark,[57] selfs die Leviete mag nie die ark aanraak nie. Dawid betig homself dat hy nie die voorgeskrifte uitgevoer het wat Moses neergelê het nie. Met die volgende poging het die Leviete die ark op drastokke gedra. Die huis van God en die troon van Dawid.[58] Dawid is nie die man om die tempel van God te bou nie – dit is die werk van sy seun, 'n man van vrede, nie 'n krygsman nie.[59] Maar God vergoed vir die teleurstelling deur aan Dawid 'n huis te belowe, 'n dinastie wat altyd sal bly voortbestaan. Op hierdie belofte berus die hoop wat deur die hele Ou Testament loop, die hoop op die Messias. Met Sy koms word die belofte vervul.

Christus is gebore in Dawid se geboorteplek Bethlehem en uit die huis en geslag van Dawid. Die engel het aan Maria gesê: "Die Here God sal hom die troon van sy voorvader Dawid gee en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid."[60] "Jou eie seun sal 'n huis bou,[61] en Salomo het gebou.[62] Dawid het wel andersins baie bygedra deur die planne op te trek en materiaal te voorsien.[63]

Dawid se oorwinnings.[64] Moab:[65] Dawid het voorheen op goeie voet met hulle verkeer.[66] Soutvlakte:[67] waarskynlik in die onvrugbare deel in die groot skiereiland suid van die Dooie See.
[wysig | wysig bron]

Dawid se seuns was priesters hoewel nie uit 'n priesterlike familie nie. Dawid was in 'n sekere sin 'n priesterkoning soos Melgisedek, 'n vroeëre koning van Jerusalem.[68]

Dawid en Mefiboset, die seun van Jonatan[69]
[wysig | wysig bron]

Die feit dat die koning Dawid hom ontbied het moes Mefiboset ongetwyfeld met vrees vervul het, maar Dawid het net goeie motiewe ter wille van Jonatan gehad. Hy herstel die familiegrond en behandel die jongman soos sy eie seun.

Lo-Dabar[70] is in die noorde van Gilead, nie ver van Jabes nie.

Die Ammoniete en die Arameërs word verslaan[71]
[wysig | wysig bron]

Ganin het die oorlog ontketen deur sy beledigende behandeling van die gesante, maar die buurvolke en die magtige koning van Israel is ongetwyfeld met agterdog en vrees bejeën.

Dawid se owerspel met Batseba[72]

[wysig | wysig bron]

Dawid se leërs veg teen die Amalekiete, maar in die lente bly die koning tuis. Na sy middagrus loop hy in die aandkoelte op die dak van die paleis rond vanwaar hy kan neerkyk in die oop binnehof van 'n naburige huis waar Batseba besig is om te bad. Wat daarop volg, owerspel en moord, word 'n waterskeiding in Dawid se lewe. Hy sou die wrang vrugte van sy sonde pluk.

Rabba[73] die huidige Amman, hoofstad van Jordanië.

Urija die Hetiet:[74] om sake te vererger, was Urija een van Dawid se spesiale magte wat weg was om die koning se oorlog te veg.

Vers 11: die leer is op 'n veldtog en die reël is dat die manne nie geslagsomgang met vroue mag hê nie. As 'n Urija nie so beginselvas was nie, sou hy huis toe gegaan het na sy vrou. Die kind kon dan as syne deurgegaan het en hy sou nie gesneuwel het nie. Maar miskien het hy reeds die waarheid vermoed.

Jerbeser:[75] m.a.w. Jerubaäl/Gideon[76] aangesien Baäl 'n heidense naam is, het die skrywers dit later vervang deur die woorde "biset/beset, "skande". Egbaäl het Is-Boset geword.

Natan se besoek; die dood van die kind[77]
[wysig | wysig bron]

Urija dood, die bruilof is verby en die kind is gebore. Alles het skynbaar baie mooi oorgewaai – totdat Natan daar aankom, want dan kom die hele skandelike episode aan die lig. Dawid leer om homself te sien soos God hom sien – 'n vernederende ondervinding vir 'n koning.[78] God vergewe hom maar hy word gestraf, die kind sterf.

Vers 10-11: Die voorspelling is vervul. Drie van Dawid se seuns is vermoor, twee van hulle deur hulle eie broers. En Absalom het in sy rebellie sy vader se harem oorgeneem.[79]

Sien ook

[wysig | wysig bron]
  • Lys van konings van Israel
  • Lys van persone in die Bybel
  • Geskiedenis van Israel in die Bybelse Tyd
  • Geslagsregister van Adam tot Jesus
  • Bybelse Gids – Genesis
  • Bybelse Gids – Eksodus tot Deuteronomium
  • Bybelse Gids – Josua
  • Bybelse Gids – Rigters
  • Bybelse Gids – Boas en Rut
  • Bybelse Gids – Samuel
  • Bybelse Gids – Koning Saul

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) G. Johannes Botterweck; Helmer Ringgren (1977). Theological Dictionary of the Old Testament. Wm. B. Eerdmans Publishing. p. 158. ISBN 978-0-8028-2327-4.
  2. 2,0 2,1 2,2 Public Domain  "David". The New Student's Reference Work. (1914). Chicago: F. E. Compton and Co. URL besoek op 19 Mei 2022. 
  3. 1 Sam. 16-31
  4. 1 Sam. 16:1-13
  5. 1 Sam. 16:14-23
  6. 1 Sam. 17
  7. 1 Sam. 18
  8. 2 Sam. 1:26
  9. 1 Sam. 19-20
  10. 1 Sam. 19:1-7
  11. 1 Sam. 19:8-17
  12. 1 Kon. 19:18-24
  13. 1 Sam. 20:30-33
  14. 1 Sam. 20:35-42
  15. 1 Sam. 21
  16. 1 Sam. 22:11-19
  17. Kyk ook 1 Sam. 27:5-12.
  18. 1 Sam. 21:1.
  19. 1 Sam. 21:4
  20. 1 Sam. 22:1-5
  21. 1 Sam. 22:6-18
  22. 1 Sam. 22:19-23
  23. 1 Sam. 23:1-5
  24. 1 Sam. 23: 6-15
  25. 1 Sam. 23:16-18
  26. 1 Sam. 23:19-28
  27. 1 Sam. 24
  28. 1 Sam. 25:1b
  29. 1 Sam. 26
  30. 1 Sam.26:6
  31. 2 Sam. 3:39; 18:14; 20:10
  32. 1 Sam. 27: 1-77
  33. 1 Sam. 29
  34. 1 Sam. 30
  35. 2 Sam. 1-4
  36. 2 Sam. 1
  37. 1 Sam. 30
  38. 2 Sam. 2
  39. 2 Sam. 2:14.
  40. 2 Sam. 2:23
  41. 2 Sam. 3:1
  42. 2 Sam. 3:2-5; vgl. 1 Kron. 3:1-4
  43. 2 Sam. 3:6-11
  44. 2 Sam. 12-21
  45. 2 Sam. 3:22-4:1
  46. Sien 1 Kon. 2:5
  47. 2 Sam. 4:2-12
  48. 2 Sam. 5-12
  49. 2 Sam. 5:1-8
  50. 1 Sam. 24:18-23
  51. 1 Sam 3:9-10
  52. 2 Sam. 5:2
  53. Rig. 1:8
  54. Jos. 15:15-63; Rigt. 1:21
  55. 2 Sam. 6. Sien ook 1 Kron. 13, 15-16
  56. 1 Sam. 4-6
  57. 2 Sam. 8:6
  58. 2 Sam. 7
  59. 1 Kron. 22:7
  60. Luk. 1:32-33
  61. 1 Kon. 5-7
  62. 1 Kon. 5-7
  63. 1 Kron. 28:11ev; 22:2ev
  64. 2 Sam. 8
  65. 2 Sam. 8:2
  66. 1 Sam.22:3-4
  67. 2 Sam. 8:13
  68. Kyk Gen. 4:18
  69. 2 Sam. 9.
  70. 2 Sam. 9:4
  71. 2 Sam. 10
  72. 2 Sam. 11
  73. 2 Sam. 11:1
  74. 2 Sam. 10:3
  75. 2 Sam. 11:21
  76. Rigt. 9
  77. 2 Sam 12
  78. Psalm 51
  79. 2 Sam. 16:22

Literatuur

[wysig | wysig bron]
  • Die Bybel (1953-Vertaling)
  • Reinecker, Fritz: Lexikon zur Bibel. R. Brockhaus Verlag, Wuppertal 1981. ISBN 3-417-24528-1
  • Bybel (1983 vertaling) Bybelgenootskap van SA
  • Handboek by die Bybel David en Pat Alexander Lux Verbi

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]


Profete van Islam, soos in die Koran genoem.
ʾĀdam Iederies Nūḥ Hüd Salih Ibrāhīm Loet Ismāʿīl Iṣḥāq Yāqub Yūsuf Ajjoeb
آدم ادريس نوح هود صالح إبراهيم لوط اسمعيل اسحاق يعقوب يوسف أيوب
Adam Henog Noag Eber Selag Abraham Lot Ismael Isak Jakob Josef Job

Suayb Mūsa Haroen Dhoelkifl Dawud Süleyman Iljas Al-Yasa Yunus Zakarija Jahja ʿĪsā Mohammed
شعيب موسى هارون ذو الكفل داود سليمان إلياس اليسع يونس زكريا يحيى عيسى
Mohammed
Mohammed
Jetro Moses Aäron Esegiël Dawid Salomo Elija Elisa Jona Sagaria Johannes Jesus