[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Achim von Arnim

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Achim von Arnim
Portret deur Peter Edward Stroehling, 1803
Gebore
Carl Joachim Friedrich Ludwig von Arnim

26 Januarie 1781
Berlyn, Markgraafskap van Brandenburg
Sterf21 Januarie 1831
Wiepersdorf, Brandenburg,
Pruise
NasionaliteitDuits
Alma materMartin Luther-universiteit van Halle-Wittenberg
Universiteit van Göttingen
BeroepDigter, skrywer
BewegingHeidelbergse Romantiek
EggenootBettina von Arnim
KindersGisela von Arnim
Handtekening

Carl Joachim Friedrich Ludwig von Arnim (26 Januarie 178121 Januarie 1831), beter bekend as Achim von Arnim, was 'n Duitse digter en romansier. Saam met Clemens Brentano en Joseph von Eichendorff was hy een van die belangrikste verteenwoordigers van die Duitse Romantiek.

Arnim is gebore in Berlyn en was 'n afstammeling van 'n Brandenburgse adellike familie wat vir die eerste keer in 1204 genoem word. Sy vader was die Pruisiese kamerheer (Kammerherr) Joachim Erdmann von Arnim (1741–1804), 'n koninklike gesant in Kopenhagen en Dresden, wat later die direkteur was van die Berlynse Staatsopera. Sy moeder, Amalia Caroline von Labes (1761–1781), is drie weke ná Arnim se geboorte oorlede.

Arnim en sy ouer broer Carl Otto het hul kinderjare deurgebring by hul grootmoeder aan moederskant, Marie Elisabeth von Labes (Sy was die weduwee van Michael Gabriel Fredersdorf uit haar eerste huwelik) in Zernikow en in Berlyn, waar Arnim die Joachimsthal Gimnasium bygewoon het. In 1798 studeer hy regte, natuurwetenskap en wiskunde aan die Martin Luther-universiteit van Halle-Wittenberg (Universiteit van Halle). Sy vroeë skrywes het talle artikels vir wetenskaplike tydskrifte ingesluit. Sy eerste groot werk, Theorie der elektrischen Erscheinungen (Teorie van Elektriese Verskynsels) het 'n neiging getoon na die bonatuurlike, wat algemeen voorgekom het onder die Duitse romantici. In Halle was hy bevriend met die komponis Johann Friedrich Reichardt, in wie se huis hy kennis gemaak het met die Romantiese digter Ludwig Tieck. Vanaf 1800 het hy sy studies aan die Universiteit van Göttingen voortgesit, maar nadat hy Johann Wolfgang von Goethe en Clemens Brentano ontmoet het, het hy van die natuurwetenskappe na die letterkunde oorgeslaan. Arnim het in 1801 die nodige graad verwerf om as geneeskundige te praktiseer, maar het nooit gepraktiseer nie.

Hy het van 1801 tot 1804 saam met sy broer deur Europa gereis. Hy het sy latere vrou Bettina in Frankfurt ontmoet, die Rynvallei af gereis saam met Clemens Brentano, Germaine de Staël in Coppet ontmoet, en Friedrich Schlegel en sy vrou Dorothea von Schlegel in Parys besoek en voortgegaan met sy reis na Londen en Skotland.

Arnim is beïnvloed deur die vroeëre werke van Goethe en Herder, waaruit hy geleer het om die skoonheid van Duitse tradisionele legendes en volksliedere te waardeer. Terug in Duitsland het hy 'n versameling hiervan begin vorm en in 1805 die eerste keer die resultaat gepubliseer, in samewerking met Clemens Brentano, onder die titel Des Knaben Wunderhorn.[1] Hy het Goethe in Weimar besoek om die versameling te redigeer. In Frankfurt ontmoet hy die regsgeleerde Friedrich Carl von Savigny, wat die begin was van 'n blywende vriendskap.

Arnim se redaksionele werk is toenemend deur die Napoleontiese Oorloë ontwrig. Met die Pruisiese nederlaag in 1806 tydens die Slag van Jena–Auerstedt, het hy die koninklike hof gevolg tot by Königsberg, waar hy by die kring van Pruisiese hervormers rondom Baron vom Stein aangesluit het. In 1807 verhuis hy terug na Weimar en Kassel, waar hy die Broers Grimm besoek het, en uiteindelik na Heidelberg. Hy en Brentano het die tweede en derde volume van hul volksliedversameling voltooi en vanaf 1808 saam met Joseph Görres die belangrike romantiese Zeitung für Einsiedler (Koerant vir Kluisenaars) in Heidelberg in 1808 gepubliseer. Die Heidelbergse kring van Romantici het ook Tieck, Friedrich Schlegel, Jean Paul, Justinus Kerner, en Ludwig Uhland ingesluit.

Bettina von Arnim

Vanaf 1809 het Arnim weer in Berlyn gewoon, maar sy planne om die Pruisiese staatsdiens te betree het misluk. In 1810 het hy verloof geraak aan Brentano se suster Bettina, wat self 'n bekroonde skryfster was. Hulle trou op 11 Maart 1811; hul dogter Gisela (een van sewe kinders) het ook 'n skryfster geword. Kort na hul huwelik het die egpaar vir Goethe in Weimar besoek, maar die herontmoeting is oorskadu deur 'n hewige rusie tussen Bettina en Goethe se vrou Christiane.

In Berlyn het Achim gewerk aan die erfenis van Heinrich von Kleist, en die patriotiese Deutsche Tischgesellschaft, 'n vereniging van Christelike mans, gestig.[2] Arnim het steeds geassosieer met Pruisiese patriotte soos Adam Heinrich Müller en Friedrich de la Motte Fouqué, en was in bevel van 'n Landsturm-bataljon tydens die Duitse veldtog van 1813. Vanaf Oktober 1813 was hy uitgewer van die Berlynse koerant "The Prussian Correspondent", totdat hy in Februarie 1814 in 'n onderonsie betrokke was met sy voorganger Barthold Georg Niebuhr.

Terwyl sy vrou in Berlyn gebly het, het Arnim in 1814 vertrek na Künstlerhaus Schloss Wiepersdorf, sy familiewoning, waar hy gewoon het tot sy dood aan 'n beroerte in 1831. Sy uitset, gepubliseer in koerante, tydskrifte en almanakke sowel as selfstandige boeke, het romans, dramas, verhale, gedigte en joernalistieke werke ingesluit. Ná sy dood is sy biblioteek deur die Weimar-hofbiblioteek oorgeneem.

Werke

[wysig | wysig bron]

Arnim word beskou as een van die belangrikste verteenwoordigers van die Duitse Romantiek. Sy werke is gebundel in twintig volumes (1839-48, met 'n voorwoord deur Wilhelm Grimm. Heinrich Heine het 'n lofrede aan Arnim geskryf in sy Deutschland. Arnim se werke sluit in:

Des Knaben Wunderhorn, Moritz von Schwind, omstreeks 1850
  • Hollin's Liebeleben (1802)
  • Ariel's Offenbarungen (1804)
  • Des Knaben Wunderhorn (Volkspoësiebundel, 3 vol., met Clemens Brentano, 1806 en 1808)
  • Tröst Einsamkeit (Bundel van Arnim se gepubliseerde stukke vir Zeitung für Einsiedler, 1808)
  • Der Wintergarten (1809)
  • Mistris Lee (1809)
  • Armut, Reichthum, Schuld und Buße der Gräfin Dolores (1810)
  • Halle und Jerusalem (toneelstuk, 1811)
  • Isabella von Ägypten. Kaiser Karl des Fünften erste Jugendliebe (novelle, 1812)
  • Schaubühne (toneelstuk, 1813)
  • "Frau von Saverne" (verhaal, 1817)
  • Die Kronenwächter. Bd. 1: Bertholds erstes und zweites Leben (onvoltooide roman, 1817)
  • Der tolle Invalide auf dem Fort Ratonneau (novelle, 1818)
  • "Fürst Ganzgott und Sänger Halbgott" (verhaal, 1818)
  • Die Gleichen (toneelstuk, 1819)
  • "Die Majoratsherren" (verhaal, 1820)
  • "Owen Tudor" (verhaal, 1820)
  • "Landhausleben" (verhaal, 1826)
  • Die Päpstin Johanna (postuum gepubliseer deur Bettina von Arnim, 1846)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Chisholm 1911, p. 631.
  2. Hertz, Deborah (2019). "The Troubled Friendship of Clemens Brentano and Rahel Levin in the Shadow of the Christlich-deutsche Tischgesellschaft". The Leo Baeck Institute Year Book. 64: 181–196. doi:10.1093/leobaeck/ybz010.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • The Arthurian Encyclopedia. Norris J. Lacy, Ed. "German Arthurian Literature (Modern)." New York: Garland Publishing, Inc., 1986.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]