Dryfas
'n Dryfas is 'n meganiese komponent wat vir die oordrag van wringkrag en rotasie gebruik word. Dit word geheg aan komponente van 'n dryfstelsel wat nie direk gekoppel kan word nie, weens die afstand tussen hulle, of die metode van koppeling, en daardeur word voorsiening gemaak vir die relatiewe beweging tussen hulle. 'n Baie algemene voorbeeld is die as wat krag van die enjin van 'n motorvoertuig na die aangedrewe wiele neem. Soos die wiele op en af in die bakwerk beweeg wanneer oor hobbels gery word, moet die dryfas voorsiening maak daarvoor terwyl die dryfkrag nog steeds oorgedra word.
Dryfaste is onderhewig aan wringkrag, gelykstaande aan die verskil tussen die insetwringkrag en die las aan die uitsetkant. Hulle moet dus sterk genoeg wees om die spanning te dra, maar ook nie te swaar nie, omdat dit weer die traagheid verhoog.
Om voorsiening te maak vir variasies in die belyning en afstand tussen die aandrywing en aangedryfde komponente, gebruik dryfaste dikwels een of meer buigsame koppelings wat relatiewe beweging toelaat, maar steeds wringkrag oordra. Voorbeelde van die koppelings is kruiskoppelings, homokinetiese koppelings (Engels: "CV Joints"), rubber kakebeenkoppelings, en gegroefde gly-aste (soos krag aftappers).