[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Montreux

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Montreux

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Switserland Switserland
 Kanton Vaud/Waadt
 Distrik Riviera-Pays-d'Enhaut
 Koördinate 46°26′N 06°55′O / 46.433°N 6.917°O / 46.433; 6.917
 Stigting 3de eeu
 Oppervlakte:  
 - Totaal 33,40 vk km
 Hoogte bo seevlak 390 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2014) 26 072[1]
 - Bevolkingsdigtheid 780,6/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Stadspresident (syndic) Olivier Gfeller (SPS/PSS)
 Amptelike webwerf Montreux

Montreux is die derde grootste stad van die Franssprekende Switserse kanton Vaud (Duits: Waadt) met 26 072 inwoners (soos op 31 Desember 2014). Dit is aan die oostelike oewer van die Meer van Genève (Frans: Lac Léman) in 'n beskermde baai geleë. Administratief maak dit deel uit van die distrik Riviera-Pays-d'Enhaut.

Passasiers van die museumtreindiens tussen Blonay en Chamby geniet hierdie uitsig oor Montreux en die Meer van Genève

Danksy sy ligging tussen die Meer van Genève, berghange met wingerde en bergpieke op hoogtes van meer as 2 000 meter bo seevlak het Montreux 'n baie gematigde mediterreense mikroklimaat met subtropiese flora langs die oewerpromenade wat die stad met Vevey en die kasteel Chillon verbind. Hier word 'n verskeidenheid historiese geboue uit die Belle Époque aangetref, waaronder die befaamde Fairmont Le Montreux Palace-hotel.

Die stad is vandag een van die belangrikste toeristebestemmings van Switserland en met sy Montreux Jazz Festival ook 'n internasionale ontmoetplek van die musiekbedryf. Montreux se musikale tradisies strek verder terug. Vanaf 1911 het die Pools-Russiese komponis Igor Strawinski hier in sy huis in die noordwestelike voorstad Clarens die grootste deel van sy befaamde ballet- en orkesstuk Le Sacre du printemps geskryf. Die plaaslike konsertsaal Auditorium Stravinski is na die beroemde komponis vernoem.

Baie ander bekende persoonlikhede het aangetrokke gevoel tot die buitengewone klimaat en natuurskoon van die Meer van Genève en in Clarens gebly: die Russiese rewolusionêr en anargis Michail Bakoenin, die Duitse komponis Richard Wagner en die Russiese komponis Pjotr Tsjaikofski wat hier sy 4de simfonie voltooi het. Een van die bekendste sprokies van die Deense skrywer Hans Christian Andersen, Sneedronningen ("Die Sneeukoningin"), het in 1861 in Montreux ontstaan. Die Oostenrykse argitek en invloedryke baanbreker vir moderne argitektuur, Adolf Loos, het tussen 1904 en 1906 in Clarens sy eerste projek, Villa Karma, ontwerp en gebou.[2]

Montreux het daarnaas 'n historiese verbintenis met Suid-Afrika. In Clarens lê die huis waar Paul Kruger, die President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), op 14 Julie 1904 in selfopgelegde ballingskap oorlede is en wat tans as Krugerhuis bekend staan.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die naam "Montreux" is ontleen aan 'n klein 11de-eeuse klooster (Latyn: monasteriolum) op die terrein en het vervolgens ontwikkel in Mustruel (Frans), Muchtern (Duits, 1215), Muistruum (Latyn, 1228), Monstruacum (Latyn), Mustruz (Frans) en Moutru (Frans).[3]

Geografie

[wysig | wysig bron]
Montreux is aan die oostelike oewer van die Meer van Genève geleë

Montreux lê 390 meter bo seevlak aan die voet van die Vaud-Alpe aan die oostelike oewer van die Meer van Genève op alluviale afsettings van die bergstroompies Baye de Montreux en Baye de Clarens en teen die hellings van die Riviera van Vaud. Die oppervlak van Montreux is 33,4 vierkante kilometer, met 'n oewerlyn van 5,5 kilometer.

Die landskap in die noordwestelike stadsdeel Clarens word deur lae hellings gekenmerk, die res van die stadsgebied bestaan uit 'n smal strokie land langs die meer, waaraan steil berghange aansluit. Cubly is die hoogste bergpiek op 1 188 meter bo seevlak.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Weergegewens vir Montreux-Clarens
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Gemiddelde maksimum (°C) 4,5 6,2 9,6 13,9 18,2 21,8 24,9 23,9 20,5 15,2 9,3 5,5 14,5
Gemiddelde temperatuur (°C) 1,5 2,8 5,4 9,1 13,3 16,7 19,3 18,6 15,5 10,9 5,8 2,4 10,1
Gemiddelde minimum (°C) −0,8 0,3 2,4 5,5 9,5 12,8 15,1 14,7 12 8 3,3 0 6,9
Neerslag (mm) 90 86 104 109 119 157 130 158 117 104 114 91 1 379
Humiditeit (%) 81,8 78,4 73,7 71,6 73 73,3 71,3 74,2 78,9 83,2 82,1 82,5 77
Bron: Weatherbase[4]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Oorblyfsels van die vroegste nedersettings, wat deur argeoloë naby Baugy opgegrawe is, dateer uit die laat Bronstydperk. Die Romeine het 'n heerweg tussen die Groot Sint-Bernard en Aventicum (die huidige Avanches) en Lausanne gebou, wat deur die huidige stadsgebied van Montreux geloop het. In Montreux is die fondament van 'n Romeinse villa ontdek, wat tussen die 2de en 4de eeu bewoon is. Ook 'n begraafplaas uit die Boergondiese tydperk is in Montreux opgegrawe.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Die kasteel Château Chillon naby Montreux teen sononder
Kerkers en kettings: in Chillon is politieke andersdenkendes aangehou

Gedurende die middeleeue was Montreux 'n besitting van die abdy Saint-Maurice in Valais/Wallis, wat later onder die heerskappy van die biskop van Sion gekom het. Die biskop het die eerste groot gemeente in Montreux gestig. Die naam Montreux verwys na hierdie historiese oorspronge en is afgelei van die Latynse monasterium ("klooster").

Vanaf die 9de eeu het die kasteel Chillon as setel van die grawe en hertoë van Savoje op 'n rotseiland in die Meer van Genève ontstaan om die handelsroete tussen Boergondië en Italië, wat oor die Groot Sint Bernard-bergpas geloop het, net soos die seevervoer op die Meer van Genève te beheer. Die kasteel, wat deesdae as die prototipe van 'n magtige en romantiese burg beskou word en onder die mees besoekte argitektoniese besienswaardighede in Switserland gereken word, is tot in die 13de eeu verskeie kere uitgebrei. Die kasteelkompleks bestaan uit 25 geboue en vyf binnehowe.

In 1295 het die gebied onder die heerskappy van Girard van Oron gekom. Die here van Oron het die suidelike gedeelte van Montreux (Les Planches en Veytaux) in 1317 aan die grawe van Savoie verkoop. Die noorde het 'n leengebied van Savoie geword, wat later as die gebied van Le Châtelard bekend gestaan het en deur 'n huwelik aan die La Sarraz-gesin oorgedra is.

Met die verowering van Vaud deur Bern in 1536 het albei gebiede 'n deel van die ampsgebied van Chillon gevorm, wat in 1735 na Vevey herdoop is. Ná die ontbinding van die ancien régime in die tydperk van die Franse Rewolusie en die stigting van die Helvetiese Republiek het Le Châtelard, Les Planches en Veytaux tussen 1798 en 1803 'n deel van die kanton Léman gevorm. Met die inwerkingtreding van die Mediasie-grondwet is Léman ontbind en het 'n deel van Vaud geword. Sedert 1798 maak die gebied deel uit van die distrik Vevey.

Montreux as deel van die Grand Tour

[wysig | wysig bron]
Montreux in die aandskemer

Oorspronklik het Montreux se ekonomie op wynbou, akkerbou en veeteelt gebaseer. Die bergpasse Jaman en Chaude het die stad met die nabygeleë streek Pays-d'Enhaut verbind. Vanaf die 17de eeu is die padnetwerk in die gebied opgeknap en uitgebrei en het nuwe woonkwartiere langs die meeroewer en later ook in die hoër geleë nedersettings Caux en Les Avant ontstaan. Die groei in die toeristebedryf vanaf die 19de eeu het verdere verstedeliking bevorder.

Lord Byron het sy naam in die kerker van Chillon ingekerf

In die tydperk tussen 1746 en 1751 het die kanton Bern sy padnetwerk uitgebrei en sodoende die infrastruktuur geskep waardeur Montreux een van die Switserse bestemmings van die Grand Tour geword het, die uitgebreide opvoedkundige en kulturele reis deur vastelandse Europa wat seuns uit adellike families vanaf die vroeë 18de eeu onderneem het. Van die bekendste reisigers, wat 'n besoek aan Montreux gebring en met hul literêre werke tot sy groeiende bekendheid bygedra het, was die filosoof Jean-Jacques Rousseau met sy roman Julie, ou La Nouvelle Héloïse wat in 1761 gepubliseer is, en die laat-Romantiese Britse digter en windmaker Lord Byron.

Byron het in 1816 onder meer 'n besoek aan die kasteel Chillon gebring en hier sy naam in die kolomme van die kerker gekerf waar François Bonivard (1493–1570), prior van die St-Victor-klooster te Genève, in 1530 as Geneefse patriot en vryheidsvegter teen die heerskappy van die hertog van Savoje in kettings gelê en in 1536 deur Bernse troepe bevry is toe hulle die kanton Vaud verower het. Die besoek het 'n blywende indruk by Byron gelaat en was die inspirasie vir die fabel The Prisoner of Chillon wat nog in dieselfde jaar gepubliseer is. Byron se beskrywing van die kasteel was geesdriftig genoeg om die belangstelling van Britse en vastelandse Europese adellikes te wek. Naas Rousseau en Byron het ook Alexandre Dumas en Mary Shelley in hul literêre werke na Chillon verwys, terwyl die skilders William Turner en Gustave Courbet sy silhoeët op doek verewig het.

Montreux as toeristetrekpleister

[wysig | wysig bron]
Grand Hôtel de Caux in die vroeë 20ste eeu

Die plaaslike toerismebedryf kon voordeel trek uit Montreux se ligging langs die hoofpad na Italië en sy gematigde winterklimaat wat aan die stad die reputasie van 'n eersterangse hersteloord besorg het. Met die uitbou van die vervoerstelsel en die oprigting van 'n aantal hotelle, gastehuise en sanatoriums (vir pasiënte met longsiektes) het Montreux sedert 1850 'n ekonomiese bloeitydperk beleef. Die eerste groot kulturele feeste soos die Narsingfees, wat in die tydperk tussen 1897 en 1957 gevier is, het plaasgevind.

Die middestad van Montreux

Die bou van 'n spoorlyn oor die Simplon-bergpas en 'n hawehoof het die getal toeriste vanaf die tweede helfte van die 19de eeu vinnig laat toeneem. Die aantal hotelle in Montreux het tussen 1850 en 1900 van slegs agt tot sewentig gegroei. In bemarkingsveldtogte is romantiese verlangens na 'n verruklike natuurskoon tussen berge en meer gevoed. Vanaf 1890 is na die plaaslike oewerlandskap as Riviera verwys. Twee jaar later het die leidende Britse reisagentskap Thomas Cook 'n kantoor in Montreux geopen.[5]

Infrastruktuur en toeristefasiliteite is voortdurend uitgebou. So het die oewerpromenade tussen Chillon en Clarens ontstaan, is 'n tremlyn tussen Vevey en Villeneuve gebou (1888) asook kabelspore wat toeriste vanaf die meeroewer na die bergpieke geneem het. Die toerismebedryf het sy hoogtepunt omstreeks 1910 beleef.

Tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het die toerismebedryf in 'n krisis beland. In 1915 is hotelle gebruik om geïnterneerdes en vlugtelinge te huisves. Ook soldate, wat in die veldslagte van die Groot Oorlog slagoffers van gasaanvalle geword het, is hier behandel. Tydens albei wêreldoorloë is leegstaande hotelle geleidelik gesluit, later as woongeboue omgebou of ter wille van modernisering afgebreek.

Na-oorlogse tydperk

[wysig | wysig bron]
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, op pad na onderhandelinge met sy Iranse eweknie Javad Zarif
Die woonsteltoring Tour d'Ivoire in Territet

Montreux het sy huidige internasionale bekendheid, net soos die na-oorlogse herlewing in die toerismebedryf, aan nuwe kulturele feeste soos die Septembre Musical (sedert 1946), die Fees van die Goue Roos (sedert 1954) en die jazzfees (vanaf 1967) te danke. Die Montreux Jazz Festival is in 1967 deur Claude Nobs, 'n medewerker van die plaaslike toeristekantoor, in die lewe geroep en vind tradisioneel in Junie en Julie plaas. Die musiekfees lok tans jaarliks sowat 200 000 musiekgeesdriftiges. In 1990 het Montreux vir die bewaring van die historiese 19de eeuse toerisme-infrastruktuur die Wakkerprys ontvang.

Maar ook talle nuwe geboue en geriewe het ontstaan soos die Tour d'Ivoire ("Ivoortoring"), 'n woonstelgebou met 29 verdiepings (1969), die kongressentrum met 'n konsertsaal wat na die komponis Igor Strawinski vernoem en in 1993 uitgebrei is) en die nuwe kasinogebou (1974). Vir die bou van die nuwe snelpad A9 is sowat die helfte van alle geboue in die dorp Pertit in die stadsdeel Châtelard gesloop.

Montreux het as gasheerstad vir 'n groot verskeidenheid internasionale konferensies opgetree, soos die Konferensie oor Seestrate in 1936, die onderhandelinge oor die toekoms van Siprus tussen die Griekse en Turkse gemeenskappe van dié eilandnasie, die beraad oor vrede in Sirië (2014) en die onderhandelinge oor Iran se kernprogram in 2015.

Bevolking

[wysig | wysig bron]
Saint-Vincent in Les Planches dien as gereformeerde stadskerk van Montreux

Met 'n bevolking van 26 000 inwoners die derde grootste stad in die kanton Vaud na Lausanne en Yverdon-les-Bains. Van die bevolking is 74,4 persent Franssprekend, 6,2 praat Duits as huistaal en 4 persent Italiaans. Die bevolking het veral in die tydperk tussen 1850 en 1910 vinnig toegeneem. Tans vorm Montreux saam met drie kleiner nedersettings in die omgewing – La Tour-de-Peilz, Blonay en Veytaux – 'n klein stedelike agglomerasie.

Godsdiens

[wysig | wysig bron]

Die oudste verwysing na 'n plaaslike parogie – Saint-Vincent in Les Planches – dateer van 1228. Saint-Vincent se oorspronklike kerkgebou is in 1476 deur 'n brand vernietig. Die heropgeboude kerk is in 1525 ingewy en huisves tans 'n gereformeerde gemeente. 'n Tweede gereformeerde kerk het in 1930 in Clarens ontstaan.

Die Rooms-Katolieke kerkgebou in Montreux dateer van 1885. In 1719 is 'n Duitssprekende Protestantse gemeente gestig, terwyl Montreux ook oor Anglikaanse en Skots-Presbiteriaanse kapelle en kerkgeboue beskik. In 1917 het 'n klein Joodse gemeente ontstaan wat in 1954 met dié van Vevey saamgesmelt het. Reeds in 1900 is die Israelitiese hotel Joli Site geopen sodat Montreux ook vir gaste, wat Joodse tradisies en rituele beoefen het, as hersteloord aantreklik geword het. Die Jesjiwa of Talmoedskool, wat tien jaar later as die eerste van sy soort in Switserland in die lewe geroep is, is in 1985 na Kokhav Yaaquov naby Jerusalem verskuif.[6]

Administrasie

[wysig | wysig bron]

Die huidige munisipaliteit, waarvan die stadsgebied van die Meer van Genève tot die Vooralpe (met die bergpiek Rochers-de-Naye) strek, het in 1962 deur die samesmelting van twee nedersettings, Montreux-Les Planches (tot 1952 amptelik Les Planches genoem) en Montreux-Le Châtelard (tot 1952 Le Châtelard). Saam met Veytaux het dié nedersettings oorspronklik die parogie (kerkgemeente) Montreux gevorm. Vanaf 1846 is na die hele distrik, wat voorheen as Les Planches bekend gestaan het, as Montreux verwys.

Sedert die stigting van die munisipaliteit in 1962 dien 'n stadsraad (Municipalité) met sewe lede as uitvoerende en 'n munisipale vergadering (Conseil communal) met 100 afgevaardigdes as wetgewende gesag. Die belangrikste politieke partye is die Sosiaaldemokrate, Liberale, Vrysinniges, Groenes en Christelike Demokrate.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
Die kasino van Montreux

Die toerisme is die ekonomiese basis van Montreux. Van die 9 500 werkgeleenthede in die stad is 1 persent in die tersiêre sektor, 13 persent in die nywerheids- en 86 persent in die dienstesektor.

Klein wingerde lê teen die sonnige hange bo-oor die voorstad Clarens en naby Chailly en Brent. Die hoër gebiede is geskik vir akkerbou, veeteelt en melkproduksie, terwyl die Vooralpegebied deur weivelde oorheers word.

Die industrialisering van Montreux begin in die tweede helfte van die 19de eeu, tog bly dit altyd ondergeskik aan die toerisme en vervaardig veral goedere soos meubels, juweliersware, voedsel en die bekende Switserse sjokolade. Ander belangrike nywerhede is drukkerye, laboratoriums- en oudiovisuele toerusting.

Die werksgeleenthede in die dienstesektor word deur die hotelle, gastronomie, administrasie, banke, assuransiemaatskappye, opvoedkundige en geneeskundige instellings.

Musiek

[wysig | wysig bron]

Pop- en rockmusiek

[wysig | wysig bron]
'n Standbeeld gedenk Freddie Mercury, sanger van die Britse popgroep Queen, wat sy laaste jare in Montreux deurgebring het

Die Britse rockgroep Deep Purple het in Desember 1971 in 'n plaaslike ateljee met opnames vir hul langspeler Machine Head begin. In een van die snitte op die album, "Smoke on the Water", verwys hulle na 'n voorval tydens hul verblyf in Montreux. 'n Bewonderaar van die kunstenaar Frank Zappa het destyds tydens'n konsert van sy gunstelingmusikant die kasino van Montreux aan die brand gesteek:

We all came out to Montreux on the Lake Geneva shoreline
To make records with a mobile – We didn't have much time
Frank Zappa & the Mothers were at the best place around
But some stupid with a flare gun burned the place to the ground
Smoke on the water, fire in the sky

Die kasino is in 1975 heropen.

Montreux huisves die bekende Mountain-musiekateljee, waar baie musieksterre hul langspelers opgeneem het. So het hier tussen 1979 en 1991 ook baie treffers van die Britse rockgroep Queen ontstaan. In 1978 het die groep die ateljee gekoop. Dit is steeds in besit van Queen se musiekvervaardiger David Richards.

Die Krugerhuis in Clarens

[wysig | wysig bron]
Die Krugerhuis in Clarens

Die President van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Paul Kruger, het enkele weke in die huis, wat nou as Krugerhuis bekend staan, gewoon en is hier op 14 Julie 1904 oorlede. Die Krugerhuis, wat in 1873 opgerig is, lê langs die Meer van Genève en is in 1910 as 'n museum ingerig en vir die publiek toeganklik gemaak. President Kruger se sterfkamerbed en ander meubels is reeds in 1932 deur Suid-Afrika aangekoop en na die Krugerhuis in Pretoria gebring. Die museum het replikas ontvang.

In 1949 is die sterfhuis van President Kruger aan die Suid-Afrikaanse regering te koop aangebied. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is versoek om geld in te samel, en nadat Suid-Afrikaners landswyd hulle bydraes tot die koste gemaak het, is die huis op 27 Februarie 1950 gekoop. Die museum is namens die regering deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Switserland in stand gehou. Tydens president Pieter Willem Botha se amptelike besoek in 1984 het hy en sy geselskap na hul aankoms in Genève op 31 Mei per motor na die Krugerhuis gereis.[7]

In die negentigerjare kon die regering die onderhoud nie meer bekostig nie, en die FAK het die museum in 1994 weer oorgeneem. Danksy die bydrae van die Uitvoerende Voorsitter van die maatskappy Genfood, Johann Roode, is die Krugerhuis in Clarens gerestoureer en as 'n gastehuis onder die naam "Villa Kruger" bedryf.

In 2005 is die Krugerhuis aan 'n Switserse privaateienaar verkoop. Die FAK het egter 'n servituut oor die sterftekamer van President Kruger behou, en die huis staan ook oop vir die publiek. Tans stel veral besoekers uit Nederland, Duitsland en Rusland belang in die Krugerhuis.

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (fr) "Statistique Vaud: Population résidante permanente au 31 décembre 2014" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 September 2015. Besoek op 24 September 2015.
  2. (en) Anthony J. Lambert: Switzerland: Rail, Road, Lake. Third edition August 2005. Chalfont St Peter: Bradt Travel Guides 2005, bl. 291
  3. (fr) Martignier, David; De Crousaz, Aymon (1867). "Dictionaire Historique Géographique et Statistique du Canton de Vaud". Lausanne: L. Corbaz. p. 624.
  4. (en) Climate Summary for Montreux. Besoek op 20 Junie 2015.
  5. (de) Historisches Lexikon der Schweiz: Montreux. Besoek op 22 Julie 2015
  6. (en) Geschichte der Jeschiwa Ez Chajim in Montreux
  7. (af) D.S. Prinsloo: Stem uit die Wildernis. 'n Biografie oor oud-pres. PW Botha. Vaandel 1997, bl. 155
  8. 8,0 8,1 (fr) "Membres". Rat der Gemeinden und Regionen Europas. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Julie 2012. Besoek op 18 Julie 2012.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]