[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Limpopo

Koördinate: 24°S 29°O / 24°S 29°O / -24; 29
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Limpopoprovinsie)
Hierdie artikel handel oor die provinsie in Suid-Afrika. Vir die gelyknamige rivier, sien Limpopo (rivier).
Limpopo

Vlag

Wapen
Oppervlak 125 754 vk km
Bevolking (2011)[1] 5 404 868
Bevolking (2017 skat) 5 780 000
Bevolkingsdigtheid 43 / vk km
Tale[1] Noord-Sotho (52,9%), Tsonga (24,0%), Venda (16,7%), Afrikaans (2,3%)
Etniese verdeling[1] Swart mense (96,7%), Wit mense (2,6%),
Bruin mense (0,3%),
Asiërs (0,3%)
Hoofstad Polokwane
Premier Phophi Ramathuba (ANC)

Limpopo is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Polokwane. Die provinsie kry sy naam van die Limpoporivier, wat die mees noordelike rivier in Suid-Afrika is, en die grens met Zimbabwe vorm.

Limpopo het vroeër as die Noordelike Provinsie en voor 1994 as Noord-Transvaal bekend gestaan. Sedert 1994 sluit dit ook die voormalige tuislande Venda, Lebowa en die noordelike dele van Gazankulu in.[2]

Belangrike plekke is Polokwane (voorheen Pietersburg), Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Musina, Phalaborwa, Mokopane (voorheen Potgietersrus), Thabazimbi, Tzaneen en Bela Bela (voorheen Warmbad).

Besienswaardighede

[wysig | wysig bron]

Die bekendste toeriste-aantrekkings in Limpopo is die Nasionale Krugerwildtuin, waarvan die noordelike helfte in Limpopo geleë is, die wêrelderfenisgebied van die Mapungubwe- Nasionale Park, die Waterberg-bergreeks met die Welgevonden-natuurreservaat, die warm mineraalbaddens by Warmbad en ook die ATKV Eiland Spa en Tshipise, en die kulturele dorpe van die plaaslike swart volke en die tradisionele stamgebied van die Vendas.

Die Vendabevolking in die Soutpansberg-streek en die Noord-Sotho's (Balobedu) in die gebied van Modjadji, die opvolger van die legendariese Reënkoningin, beskik oor 'n ryk erfenis van legendes en mistiek. Die laaste opvolger van die Reënkoningin is in 2005 oorlede. Die heilige meer van die Venda, die Funduzimeer, het nog steeds sy eie (vroulike) priester.

Die ivoorroete volg die spore van die vroeë ivoorjagters en goudhandelaars.

Vroeë geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Argeologiese opgrawings in Mapungubwe

Die wêrelderfenisgebied van die Mapungubwe- Nasionale Park pronk met argeologiese vondse uit die tydperk van 'n magtige plaaslike koninkryk wat hier tussen 800 en 1290 n.C. bestaan het. Die oorblyfsels van 'n nedersetting uit die tydperk tussen die 15de en 17de eeu kan in Thulamela in die noordelike gedeelte van die Nasionale Krugerwildtuin besigtig word.

Demografie

[wysig | wysig bron]
Meerderheidstale in Limpopo:

   Afrikaans

   Engels

   Suid-Ndebele

   Xhosa

   Zoeloe

   Noord-Sotho

   Suid-Sotho

   Tswana

   Swazi

   Venda

   Tsonga

   Geen meerderheidstaal

Volgens sensussyfers was Limpopo se totale bevolking 5 404 868 in die jaar 2011. Die tale van die plaaslike swart bevolking is Noord-Sotho of Sepedi (die moedertaal van 52,9 persent van die bevolking), Xitsonga (17 persent) en Thsivenda (16,7 persent). Die meeste blankes in die provinsie is Afrikaners (2,4%), en 2,6 persent van die bevolking praat Afrikaans as moedertaal.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Limpopo beslaan 'n oppervlakte van 125 755 vierkante kilometer en is hoofsaaklik suidoos en suid van die Limpoporivier geleë.

Ligging en topografie

[wysig | wysig bron]

Limpopo word begrens deur Zimbabwe in die noorde, Botswana in die weste en Mosambiek in die ooste. Aan die suidekant van die provinsie lê die Suid-Afrikaanse provinsies Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. Die Limpoporivier vorm Limpopo se grense met Botswana en Zimbabwe. Die provinsie het verskeie groot berge, met die Waterberg-, Strydpoortberg- en Drakensbergreeks in die suide en die Soutpansbergreeks in die noorde. Die subtropiese noorde is bosveld met kremetartbome, terwyl die weste meestal deur grasvlaktes gekenmerk word.

Distrikte

[wysig | wysig bron]
Distrikte van Limpopo

Die provinsie bestaan uit vyf distrikte, naamlik:

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Landbou en mineraalmynbou vorm die ruggraat van die ekonomie in Limpopo en die toerismebedryf is ook goed ontwikkel. Daar is groot kopermyne in Musina en Phalaborwa. Minerale soos koper, asbes, steenkool, ystererts en platinum word ontgin. In die subtropiese noorde word lemoene, piesangs, avokado's, mango's, papajas, koejawels en lietsjies gekweek, en in die suide mielies, sonneblomme, katoen, druiwe en grondboontjies. Beesboedery word hoofsaaklik in die weste bedryf en in die omgewing van Tzaneen is tee-, sitrus- en bosbouplantasies aangelê.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 (en) "2011-sensus" (PDF). Statistiek Suid-Afrika. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 13 November 2015. Besoek op 13 November 2015.
  2. Nota: Die voormalige Gazankulu se suidelike dele rondom Bosbokrand val nou in Mpumalanga.

Bronne

[wysig | wysig bron]


Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Provinsies van Suid-Afrika Vlag van Suid-Afrika
Gauteng | KwaZulu-Natal | Limpopo | Mpumalanga | Noord-Kaap | Noordwes | Oos-Kaap | Vrystaat | Wes-Kaap

24°S 29°O / 24°S 29°O / -24; 29