[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Han Wudi

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Han Wudi
Keiser van Sjina

Regeer 9 Maart 141 v.C.- 29 Maart 87 v.C.
Volle naam Wu van Han (漢武帝)
Geboortenaam Liu Che (劉徹)
Titels Keiser van die Han-dinastie
Gebore 10 Augustus 156 v.C.
Oorlede 29 Maart 87 v.C. (op 68)
Voorganger Han Jing
Opvolger Han Zhao
Gades Chen Jiao (陳嬌)
Wei Zifu (衛子夫)
Kinders Wei die ouere (衛長公主)
Yangshi (陽石公主)
Zhuyi (諸邑公主)
Liu Ju (戾太子劉據)
Liu Bo (昌邑哀王劉髆)
Liu Hong (齊懷王劉閎)
Liu Dan (燕刺王劉旦)
Liu Xu (廣陵厲王劉胥)
Liu Fuling (昭帝劉弗陵)
Adellike huis Han
Vader Han Jing
Moeder Wang Zhi

Keiser Wu van Han (in tradisionele Sjinees 漢武帝, in vereenvoudigde Sjinees 汉武帝, in Pinyin Hàn Wǔdì, * 10 Augustus 156 v.C.; † 29 Maart 87 v.C.) was een van die beduidendste heersers in China. Hy is as Liu Che (劉徹) gebore en het as keiser van die Han-dinastie 54 jaar lank, tussen 141 en 87 v.C., oor die land geregeer.

Han Wudi het reeds van sy vader Han Jingdi, wat die rebellie van die "Sewe Koninkryke" (dit wil sê ou leenmanne) in 154 v.C. onderdruk het, 'n volledig gesentraliseerde staat oorgeneem wat in provinsies verdeel en danksy 'n gematigde beleid gestabiliseer is.

Die keiser het die Konfusianisme omstreeks 135 v.C. tot staatsfilosofie verhef - toekomstige amptenare is in hierdie filosofie opgelei en was verplig om dit toe te pas. Nogtans het Han Wudi self ook onder die invloed van taoïstiese alchemie gekom en onder meer offers aan Laozi se geboorteplek gebring. Albei filosofieë het hewig meegeding om die leidende wysbegeerte aan die Chinese keiserhof te word, waarby die Taoïsme byvoorbeeld deur die keiserlike weduwee Dou ondersteun. Ná haar afsterwe het dit sy sterk posisie egter ingeboet. Gedurende Wudi se regeringstydperk het omstreeks 120 v.C. ook die eerste Boeddhistiese monnike na China gekom. Hul godsdiens is eers in 65 n.C. deur keiser Han Mingdi amptelik erken.

Die oorloë, wat onder keiser Han Wudi gevoer is, was die mees grootskaalse in die keiserlike geskiedenis van China. Oorlogshandelinge het vanuit die Tarim-bekken tot in die Ferghana-vallei (102/101 v.C.), in Korea (108 v.C.) en in die suide van China in 'n aantal huidige provinsies (in 111 v.C. is Kanton ingeneem) tot in Viëtnam plaasgevind. Die militêre oorwinnings in die suide was langdurig en het sowel tot die konsolidering van die Chinese Ryk asook 'n bevolkingsaanwas gelei. As gevolg van die militêre operasies en handelsbetrekkinge het die Sjinese vir die eerste keer met die Parthers, 'n volk in die gebied van die huidige Iran, in aanraking gekom. Die Chinese wêreldbeeld het in hierdie tydperk duidelik verander.

Die omvattende buitelandse beleid, wat Wudi opgestel het, het nogtans pynlike keuses soos belastingverhogings en die vestiging van staatsmonopolies behels. Beduidende ekonomiese sektore soos yster en sout is vanaf 117 v.C. sowat 'n eeu lank deur die staat beheer - 'n idee wat later nog eens in die regeringstydperk van die Tang-dinastie opgeneem is. Han Wudi se belastingbeleid moet in samehang gesien word met die privatisering van grondbesit - 'n ontwikkeling waaruit veral welvarende gesinne in die provinsies voordeel getrek het en wat nie net die maatskaplike ewewig versteur het nie, maar ook die geleidelike agteruitgang van die dinastie ingelui het.

Teen die einde van Wudi se regeringstyd het 'n magstryd in die keiserlike gesin tussen Li en Wei ontwikkel. Kroonprins Liu Ju het in opstand teen die keiserlike mag gekom, is egter verslaan. Sy moeder, keiserin Wei, is in 91 v.C. gedwing om selfmoord te pleeg. Voor sy afsterwe het Han Wudi drie regente bepaal wat namens sy minderjarige seun Fuling opgetree het. Fuling het sy vader as keiser Han Zhaodi opgevolg.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]