De Havilland Mosquito
De Havilland Mosquito | |
---|---|
Tipe | Veeldoelige bomwerper |
Vervaardiger | De Havilland |
Nooiensvlug | 25 November 1940 |
Status | Uit diens gestel |
Hoofgebruiker | Britse Lugmag |
Aantal gebou | 7,781 |
Die De Havilland Mosquito was 'n tweemotorige vliegtuig en bomwerper van die Britse Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Mosquito was 'n veeldoelige vliegtuig wat as bomwerper gebruik is, asook vir fotografiese verkenning. Die vliegtuig is reeds in 1938 ontwerp, maar het eers in Maart 1940 aandag getrek toe vyftig bestel is. Drie prototipes is gebou, waarvan die eerste as 'n bomwerper gebou is en die tweede as 'n fotografiese verkenningsvliegtuig. Die eerste het op 25 November 1940 en die tweede op 10 Junie 1941 hulle nooiensvlugte onderneem. Aanvanklik was die vliegtuig ontwerp as 'n bomwerper sonder enige bewapening aan boord, maar vinnig genoeg om enige vyandelike vliegtuig met spoed die loef af te steek.
Ontwikkeling
[wysig | wysig bron]Die eerste bestelling vir die vliegtuig was vir 50 eksemplare. Hierdie eerste 50 het onder andere tien modelle PR Mk 1 en tien B Mk IV ingesluit. Die PR Mk 1 het sy eerste operasionele vlug op 20 September 1941 onderneem en die B Mk IV in Mei 1942. Daar word uiteindelik 273 Mk IV's gebou. Daar was drie vervaardigingsaanlegte vir die vliegtuig in Brittanje. Airspeed (120), Percival (245) en Standard Motors (156) het ook modelle vervaardig. De Havilland het altesaam 5 700 Mosquito's gebou waarvan 4 444 gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebou is.
Daar is ook 208 vliegtuie gebou deur De Havilland Australië en 1 134 deur De Havilland Kanada. Die totale aantal Mosquito's wat tydens die oorlog gebou is, was 6 710, met 'n verdere 1 071 wat na VJ-Dag gebou is.
Die vliegtuig is ook gebruik deur die Pathfinder Force om teikens te merk vir die bomwerpers. Hulle het later ook die Mk IX gebruik wat op hoë hoogtes kon vlieg, asook die Mk XVI.
Die mees algemene bom wat die vliegtuig gedra het was die 1 814kg block-buster bom. Hierdie bom was gedra in 'n spesiale bomhouer wat agterna geïnstalleer is aan modelle Mk IX, XVI en 'n paar Mk IV's. Ongeveer 1 200 model XVI's was toegerus met langafstandbrandstoftenks. Modelle NF Mk II en FB Mk IV's is omskep in vegvliegtuie.
Die Mosquito was uiteindelik deur die English Electric Canberra vervang in die Britse Lugmag.
Tegniese besonderhede
[wysig | wysig bron]Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motors | 2 |
Tipe motor | Skroef |
Vervaardiger | Rolls-Royce Merlin 72 of 76 V-tipe |
Kraglewering per motor | 1680 perdekrag |
Vlerkspan | 16,51 m |
Lengte | 12,34 m |
Hoogte | 4,66 m |
Maksimum opstygmassa | 8 660 kg |
Maksimum snelheid | 656 km/h op 7 925 m |
Operasionele hoogte | 11 278m |
Togafstand met bomvrag van 5 443 kg | 2 205 km |
Bewapening | Geen masjiengewere nie. |
Bron
[wysig | wysig bron]- Bombers 1939–1945 Kenneth Munson, Bounty Books 2012 ISBN 978-0-7537-2172-8