Auguste Renoir
Auguste Renoir | |
---|---|
Auguste Renoir, ca. 1910 | |
Geboortenaam | Pierre-Auguste Renoir |
Gebore | Limoges, Frankryk | 25 Februarie 1841
Sterf | 3 Januarie 1919 (op 78) Cagnes-sur-Mer, Frankryk |
Nasionaliteit | Frankryk |
Veld | Skilderkuns |
Beweging | Impressionisme |
Werke | Bal du moulin de la Galette, 1876 Luncheon of the Boating Party, 1880 Nude, 1910 |
Die Franse skilder Pierre-Auguste Renoir (1841–1919) wou 'n sintese bereik tussen die Impressioniste en die skildertradisie van die verlede; vir hom was die onderwerp nooit ondergeskik aan die Impressionistiese weergawe van lig en kleur nie. Renoir het veral bekend geword vir sy portrette van vroue en vir sy skilderye van baaiende naakfigure.
Pierre-Auguste Renoir is op 25 Februarie 1941 te Limoges gebore. In 1845 het die gesin na Parys verhuis, waar Auguste van sy 13de jaar af begin werk het, eers as porseleinversierder en daarna as skilder van waaiers en sonskerms. In 1862 het hy lesse in die "egte" skilderkuns by Charles Gleyre (1806–1874) begin neem, en die Louvre gereeld besoek. In Parys het hy kennis gemaak met Claude Monet (1840–1926), Alfred Sisley (1839–1899) en Frédéric Bazille (1841–1870), wat hom weer aan Camille Pissarro (1830–1903) voorgestel het.
'n Hegte vriendskap het tussen Renoir en Pissarro o ntstaan, en nadat Gleyre in 1864 sy ateljee gesluit het, het die 2 dikwels saam in die natuur gaan skilder. Hier het Renoir ontdek dat die natuur se kleure nooit homogeen is nie, maar uit verskillende skakerings naas mekaar bestaan. Sy eksperimente van die tyd met hierdie grondbeginsel van die Impressionisme, is in die ligeffekte van die water op sy skildery La Grenouillère (1868/69) te rug te vind. Na 1870 kom die Impressionisme in Renoir se werk tot volle ontplooiing.
Dit vind uiting in onder meer die skildery Le Moulin de la Galette (1876), waarin die sonlig deur die bome speel en dansende ligvlekke op die flankerende paartjies werp. Renoir was nie heeltemal so ingenome met die rigting soos sy vriende nie, soos veral uit sy figuurstudies blyk. Die skildery La loge ("Die teaterloge"; 1874) toon 'n nie-Impressionistiese belangstelling in die onderwerp. Die lewendige Le déjeuner des canotiers ("Die middagmaal van die roeiers"; 1881) is daarenteen wel weer Impressionisties.
In 1881 het Renoir 'n reis na Italië onderneem, waar hy veral deur die werk van Raphael beïndruk is. Hierop het 'n duidelike verandering in sy styl gevolg. Mense het sy belangrikste temas geword en hy, het hulle weer met groot kleurvlakke en skerp kontoere afgebeeld. Die kleur het ondergeskik aan die hegte opbou van die geheel geword – die eerste tekens dat hy van die Impressionisme, wat hy van 1881 af as ’n artistieke doodloopstraat beskou het, begin wegbeweeg het.
Renoir het daarna verskillende voorstudies van sy skilderye gemaak, waarvan veral Les parapluies ("Die sambrele"; 1882/83) en Les grandes baigneuses, ("Baaiers"; 1884 – 87) belangrik is. Veral laasgenoemde tema het hom gefassineer en hy het 'n verskeidenheid van skilderye van baaiende vroue gemaak. Teen 1890 het Renoir se skilderstyl weer verander. Hy het besondere inspirasie geput uit 18e- eeuse skilders soos Francois Boucher en Antoine Watteau, wie se werk hy goed geken het omdat hy dit in sy jeug dikwels op waaiers en porselein gekopieer het.
Sy lyne het vaer geword en hy het baie van pastelkleure gebruik gemaak. In hierdie tyd het hy ook veral om sy kinderportrette bekend geword. 'n Beroemde skildery uit hierdie tyd perk is Jeunes filles au bord de la mer ("Die dogters by die see"; 1894). Na 1900 het sy styl weker geword en het hy weelderige naakfigure in pienkrooi skakerings geskilder.
In 1907 het hy hom weens swak gesondheid in Cagnes (naby Nice) gevestig. Hoewel hy sy laaste jare in 'n rystoel deurgebring het, het hy ononderbroke voortgewerk. Toe sy vingers weens rumatiek nie meer die kwas kon hanteer nie, het hy die verfkwas aan sy hande vasgemaak. Van sy laaste werk is Les baigneuses ("Die baaiers"; 1918/ 19). Hy is op 3 Desember 1919 in Cagnes oorlede.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-65-6, volume 24, bl. 9
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Auguste Renoir.
- (en) "Pierre-Auguste Renoir". Encyclopædia Britannica. Besoek op 3 September 2019.