[go: up one dir, main page]

Suebe

groot groep Germaanse stamme

Die Suebe of Suewe (Latyn: Suebi) was 'n Wes-Germaanse volk wat rondom die begin van die jaartelling tussen die Ryn en die Oossee (Mare Suebicum in die Latyn) gewoon het. Deur hul militêre oorwig was die volk in staat daartoe om in 'n groot gebied van Germania Magna ander stamme aan hul te bind as vasaalstamme wat skatpligtig teenoor hulle was; derhalwe was daar waarskynlik 'n stamverband met onder andere die Quade (in Latyn: Quadi) , die Markomanne (in Latyn: Marcomanni), die Alemanne, die Hermundure (Die Hermundure behoort saam met die Suebe en Semnone tot die Germaanse stam van die Herminone: 'n Elbe-Germaanse stamverwantskap), die Lombarde en die Semnone.

Kaart van die Romeinse Ryk in 125 onder Hadrianus, met die woongebied van die Suebi in die noorde en die suide van die teenswoordige Duitsland
Uitbreiding van die ryk onder Rechiar

Geskiedenis

wysig

Die Suebe word deur Julius Caesar vermeld in sy De Bello Gallico, waarin hy verslag doen oor die Galliese Oorlog. Volgens die verslag het die Suebe aan die "regteroewer van die Ryn" gewoon - dit wil sê aan die Germaanse ("Duitse") kant van die Ryn - waarvandaan hulle met reëlmaat die Ryn oorgesteek het om deel te neem aan die konflik aan die "Galliese" kant van die Ryn, waar die opstandige Trevere gewoon het.

Volgens Tacitus het die Semnone en Lombarde ook deelgeneem aan die stryd van die Suebiese koning Ariovistus teen Julius Caesar (58 v.C.).

Later het die Suebe oostwaarts getrek na Sentraal-Europa. Volgens sommige is die naam vir Swede van die Suebe se naam afgelei, wat sou beteken dat die stam – of ten minste 'n gedeelte daarvan – nie oos nie, maar noordwaarts getrek het.

In die 4de eeu is die Suebe verdryf deur die Hunne en steek hulle die Ryn oor na Gallia, waarna hulle al plunderend in 'n suidelike rigting beweeg. Hulle het die Pireneë oorgetrek en in die welvarende Romeinse provinsie Hispania beland (die huidige Spanje en Portugal). In 409 stig hulle onder koning Hermeric († 441) hul eie ryk in die Romeinse provinsie Gallaecia (of Callaecia), ongeveer die huidige outonome streek Galisië in Spanje. Hier gaan die Suebe oor tot Arianisme, waarskynlik onder Visigotiese invloed.

Onder koning Rechila (438-448) brei die Suebe hul ryk uit met Baetica en Sevilla. Hulle dien die laaste Romeinse troepe 'n verpletterende nederlaag toe. Maar die koning se seun Rechiar moes in 456 die onderspit delf in die Slag aan die Urbicus teen die Visigote onder leiding van Theodorik II. Die Suebe is daarna in sy naam deur 'n goewerneur bestuur.

Die Suebe het uiteindelik op die langeduur hul onafhanklikheid teruggekry onder hul eie konings, maar hulle moes die grootste deel van Spanje afstaan aan die Visigote, onder wie se invloed hulle sedertdien ondergegaan het. Hulle is teruggedryf oor die Duero, na Gallaecia, en het die godsdiens van hul oorwinnaars aangeneem. Derhalwe was die Suebe deels Ariaans, deels heiden. In 465 gaan hulle oor tot die Katolisisme.

Die dood van Rechiar het gelei tot 'n breuk binne die Suebe. Aioulf (456-457) en Framta (457-458) het die ryk tussen hulle verdeel; hulle was egter nog steeds vasale van die Visigote. Onder Maldras is die Suebe weer kortstondig herenig, waarna 'n breuk volg tussen Richimund (459-463), Frumar (459-463) en Remismund (459-469). Hierdie laaste breuk sorg egter vir 'n definitiewe hereniging in 463. Van die geskiedenis in die jare 468 tot 560 is in geheel byna niks bekend nie. In 585 is die ryk van die Suebe definitief vernietig deur Leovigild, ondanks die hulp wat die Franke aan hulle verleen het. Die gebied wat hulle bewoon het is by die van die Visigote ingelyf, waarna die oorblywende Suebe geleidelik opgegaan het in die Romaanse bevolking.

Die naam van die Wes-Vlaamse munisipaliteit Zwevegem is etimologies terug te vinde na die Suebe. Die agtervoegsel "Heem" kom van die Germaanse "woning" of "verblyfplek".

Donausuebe

wysig

Aan die bronne van die Donau was daar ook 'n Suebiese stam gevestig wat hulself die Alemanne genoem het. (Dink aan die Franse woord vir Duitsland: Allemagne.) Hul naam leef voort in die ou hertogdom Swabe, die huidige landstreek Swabe en die Beierse streek Swabe (Duits: Schwaben) en selfs in Nieu-Swabeland (Duits: Neuschwabenland), 'n deel van Antarktika wat deur die NSDAP van Duitsland opgeëis is.

Konings van die Suebe in Gallaecia

wysig
  • Hermeric (409-438)
  • Rechila (438-448)
  • Rechiar (448-456)
  • Aioulf (456-457)
  • Framta (456-457)
  • Maldras (457-459)
  • Richimund (459-463)
  • Frumar (459-463)
  • Remismund (459-469), vanaf 463 heerser van die hele ryk na definitiewe hereniging
  • 'n duistere periode (469-550), waarvan slegs een naam seker is: Theodemund, maar miskien ook Vermund, Rechila II, Rechiar II en Hermeneric
  • Carriaric (550-559)
  • Theodemar (559-570)
  • Miro (570-583)
  • Eboric (ook bekend as Euric) (583-584)
  • Andeca (584-585), afgesit deur die koning van die Visigote, Leovigild
  • Malarik (585), kom in opstand teen Leovigild en word verslaan

Bronnelys

wysig
  • Ferdinand Lot, De Germaansche invasies. De versmelting van de Barbaarsche en Romeinsche wereld, Den Haag, 1939, pag. 213.
  • Caesar, De Bello Gallico / [Oor die] Oorlog in Gallië