[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Maatskaplike ongelykheid

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n Hawelose slaap op een van die gesogste strate in São Paulo, die Avenida Paulista.

Maatskaplike ongelykheid vind plaas wanneer hulpbronne in 'n samelewing oneweredig versprei word. Dit is dikwels die gevolg van onbillike toekenningspraktyke wat duidelike ongelyke patrone skep gebaseer op sosiaal gedefinieerde kategorieë van mense. Verskille in toegang tot sosiale goedere binne die samelewing word beïnvloed deur faktore soos mag, godsdiens, verwantskap, aansien, ras, etnisiteit, geslag, ouderdom, seksuele oriëntasie, intelligensie en klas. Sosiale ongelykheid impliseer gewoonlik die gebrek aan gelykheid van uitkoms, maar kan alternatiewelik gekonseptualiseer word as 'n gebrek aan gelykheid in toegang tot geleenthede.[1]

Maatskaplike ongelykheid is gekoppel aan ekonomiese ongelykheid, gewoonlik beskryf as die basis van die ongelyke verdeling van inkomste of rykdom. Alhoewel die dissiplines van ekonomie en sosiologie oor die algemeen verskillende teoretiese benaderings gebruik om ekonomiese ongelykheid te ondersoek en te verklaar, is beide velde aktief betrokke by die navorsing van hierdie ongelykheid. Maatskaplike en natuurlike hulpbronne is egter, anders as suiwer ekonomiese hulpbronne, ook oneweredig in die meeste samelewings versprei en kan bydra tot sosiale status. Norme van toekenning kan ook die verspreiding van regte en voorregte, sosiale mag, toegang tot openbare goedere soos onderwys of die regstelsel, voldoende behuising, vervoer, krediet en finansiële dienste soos bankwese en ander maatskaplike goedere en dienste beïnvloed.

Oorsig

[wysig | wysig bron]

Maatskaplike ongelykheid word deur 'n reeks strukturele faktore, soos geografiese ligging of burgerskapstatus, beïnvloed en word dikwels deur kulturele diskoerse en identiteite onderlê wat byvoorbeeld die armes as waardig of onwaardig definieer.[2] Die proses van maatskaplike ongelykheid beklemtoon hoe belangrik 'n samelewing sy mense ag en identifiseer belanghebbende aspekte van hoe vooroordele in die samelewing te voorskyn kom. In eenvoudige samelewings, waar daar slegs 'n paar maatskaplike rolle en statusse deur die lede van die gemeenskap ingeneem word, kan maatskaplike ongelykheid baie laag wees. Byvoorbeeld, in stamsamelewings sal 'n stamhoof of hoofman sekere voorregte hê of gereedskap gebruik of ampsmerke dra waartoe ander nie toegang het nie. Die daaglikse lewe van die hoofman sal egter baie soortgelyk aan die lewe van ander stamlede lyk.

Antropoloë noem hierdie hoogs gelyke kulture "familie geörienteerd" (kinship-oriented); hulle beskou sosiale harmonie as belangriker as rykdom of status. Hierdie kulture staan in kontras met materieel geörienteerde kulture waar status en rykdom hooggeag word en kompetisie en konflik dus algemeen is. Familie geörienteerd kulture kan help om te keer dat sosiale hierargieë ontwikkel omdat hulle glo dit kan tot konflik en onstabiliteit lei.[3] Hoe meer ingewikkeld 'n samelewing word, hoe groter is die kans dat maatskaplike ongelykheid sal ontstaan, aangesien dit verhoog soos wat die gaping tussen die armstes en rykste lede van die samelewing vergroot.[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Caves, R. W. (2004). Encyclopedia of the City. Routledge. ISBN 9780415252256.
  2. Walker, Dr. Charles. "New Dimensions of Social Inequality". www.ceelbas.ac.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Januarie 2018. Besoek op 22 September 2015.
  3. Deji, Olanike F. (2011). Gender and Rural Development. London: LIT Verlag Münster. p. 93. ISBN 978-3643901033.
  4. Rugaber, Christopher S.; Boak, Josh (27 Januarie 2014). "Wealth gap: A guide to what it is, why it matters". AP News. Besoek op 27 Januarie 2014.