Dawie Couzyn
Dawie Couzyn | |
Geboortenaam | Mauritz David Wilhelmus Couzyn |
---|---|
Geboorte | 27 Junie 1925 Pretoria |
Sterfte | 17 Junie 2010 Johannesburg |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Sanger, skrywer |
Huweliksmaat | Eugenie Chopin-Couzyn |
Dawie Couzyn (1925–2010) was 'n Suid-Afrikaanse sanger en skrywer. Hy verwerf bekendheid as internasionale operasanger (bariton), maar keer in die 1970's op 'n permanente basis na Suid-Afrika terug. Hy was ’n solis van die Weense Kämmeroper en het gereeld aan programme van die BBC in Londen en Radio Wien deelgeneem. As skrywer is hy bekend vir sy digkuns. Hy het ook talle gewilde liedjies vir Afrikaanse kinders saam met die sopraan Doris Brasch opgeneem.[1]
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Herkoms en vroeë lewe
[wysig | wysig bron]Mauritz David Wilhelmus (Dawie) Couzyn is op 27 Junie 1925 in Pretoria gebore en matrikuleer op Pietersburg.[2]
Sangloopbaan en musikale studies
[wysig | wysig bron]Vir twaalf jaar lank is hy joernalis en hy stig selfs en is redakteur van die sosialistiese Afrikaanse tydskrif Die nuwe stem in Johannesburg, wat tot niet gaan net voor die 1948 verkiesings. Gedurende hierdie tyd neem hy as bariton sangles in Pretoria by die bekende skrywer Stella Blakemore en later in Johannesburg onder Margaret Roux, Bruce Anderson en veral Olga Ryss.
In 1948 neem hy vir die eerste keer deel aan opera uitvoerings en gaan dan in 1955 na Wene in Oostenryk waar hy verder studeer en in 1957 sy Meestersgraad in sang met lof aan die Staatsakademie für Musik und Darstellende Kunst aflê. Hy sit sy sangstudies hierna voort in Salzburg en Milaan. In hierdie tyd tree hy reeds op in programme op Radio Wien in Wenen, terwyl hy ook per geleentheid solis is by die Viennese Kameroper.
In Junie 1957 maak hy sy buiging as professionele konsertsanger in die Albert Hall in Londen. Hierdie is die eerste van 'n reeks uitvoerings wat hy op die verhoog en oor die BBC in Engeland aanbied. In 1959 word hy die hoofbariton van die Landestheater in Salzburg en sing vanaf 1964 rolle vir die Salzburger Mozartoper op hulle uitgebreide jaarlikse toere deur Italië, Frankryk, Switserland, Luxemburg en Duitsland. Intussen sit hy sy studies aan die Mozarteum voort en word onder Bernhard Paumgartner 'n spesialis in die operas van Mozart. Hy vertolk onder andere die rol van Figaro meer as honderd kere, die rol van Gugliemo uit Così fan tutte meer as sestig kere en Don Giovanni meer as twintig kere. Gedurende 1969 en 1971 gaan hy Amerika toe waar hy sewe baritonleierrolle vertolk. Vanaf Augustus 1971 is hy vir 'n jaar verbonde aan die Linz Opera[3] in Oostenryk.
Suid-Afrika
[wysig | wysig bron]Sedert 1960 besoek hy Suid-Afrika gereeld elke jaar en tree op in produksies aangebied deur die streekskunsterade. Hy maak ook kommersiële opnames en sy opnames van Op my ou ramkietjie, O, boereplaas, Oom Bossie van die Bosveld en Huisie in die berge word groot treffers, terwyl hy ook saam met Doris Brasch bekendheid verwerf met die opnames van verskeie Afrikaanse kinderliedjies, insluitende Die dapper muis, Sal jy dit glo?, Die olifant, Almal dra 'n jas en Die krokodil. Sy oorsese sangloopbaan kom in 1974 tot 'n einde wanneer hy aangestel word as hoof van die operaskool aan die Kollege vir Gevorderde Tegniese Onderwys in Pretoria. Hy bedank uit hierdie pos in 1977. Hierna open hy sy eie sangskool[4] in Johannesburg en hy tree gereeld op in operas en operettes, hoofsaaklik in Suid-Afrika. In sy latere jare is hy ook operaregisseur, veral vir produksies deur Pro Musica in Roodepoort, waar hy gereeld saamwerk met Weiss Doubell, gewese artistieke direkteur van Pro Musica.
Persoonlike lewe en sterfte
[wysig | wysig bron]Op 2 Oktober 1989 word hy in die landdroshof in Randburg tot twee jaar opgeskorte tronkstraf gevonnis asook 'n boete van R2000 of 'n jaar tronkstraf nadat hy skuld erken dat hy tussen 1986 en 1988 onsedelike dade[5] met 'n seun onder die ouderdom van sewentien jaar gepleeg het. Die seun was ten tyde van die voorvalle verbonde aan 'n koor en het by Couzyn se huis in Sandton spesiale sangklasse geneem. 'n Ander man, het later 'n klag van onsedelike aanranding, insluitend sodomie terwyl hy as kind bevriend was met hulle, teen beide Couzyn en sy seun, Victor, ingedien, maar a.g.v. die wet op beperkings is dit nooit tot beslissing gebring nie.
Sy tweede vrou, Eugenie Chopin-Couzyn, skei sowat 'n jaar na sy skuldigbevinding van hom.
Hy bly die laaste jare van sy lewe in Observatory in Johannesburg. Op Donderdag, 17 Junie 2010 is hy in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg oorlede[6] weens 'n besering wat hy opdoen nadat hy by sy huis in Observatory geval het.[7]
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Van sy gedigte word opgeneem[8] in Stiebeuel in 1946, maar hy volg dit nie op met 'n selfstandige bundel nie. Sy gedig Diagonaalstraat word opgeneem in Groot verseboek en ook in ander versamelbundels soos Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte. W.E.G. Louw prys die kleurryke,[9] impressionistiese siening in hierdie gedig.
Eerbewyse
[wysig | wysig bron]Die ATKV vereer hom vir sy rol in die bevordering van Afrikaanse liedere, opera en operettes.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ Pretorius, Danie C. Musieksterre van gister en vandag J.P. van der Walt, Pretoria. Eerste Uitgawe, 1998.
- ↑ S.A. Opera singers: http://saoperasingers.homestead.com/Dawie_Couzyn.html
- ↑ Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Dawie_Couzyn
- ↑ Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1988/11/22/1/3.html[dooie skakel]
- ↑ Muller, Wayne. Bekende SA bariton sterf. Beeld, 19 Junie 2010.
- ↑ Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica. Pretoria, Kaapstad en Johannesburg. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1983.
- ↑ Louw, W.E.G. Van die stiebeuel in die saal. Standpunte. Jaargang 2, no. 1, 1946.
- ↑ Thomas, Lize. Outentieke kunstenaar Couzyn was so kleurvol soos sy stem. Beeld, 25 Junie 2010.