[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Groote Schuur

Koördinate: 33°57′50″S 18°27′50″O / 33.96389°S 18.46389°O / -33.96389; 18.46389
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die agterkant van die Groote Schuur-woning, omstreeks 1905.

Groote Schuur is die ampswoning van Suid-Afrika se Eerste Ministers of Staaspresidente gedurende parlementsittings in Kaapstad. Die opstal was aanvanklik 'n graanskuur van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie, en is later deur D.G. Anosi in 'n woonhuis omgeskep. In 1893 is die opstal deur Cecil John Rhodes gekoop en sir Herbert Baker het opdrag ontvang om die huis volgens die tradisionele Kaaps-Hollandse boustyl te restoureer.

Die huis is 3 jaar later gedeeltelik deur 'n brand verwoes, maar dit is weer deur sir Herbert herbou en vergroot. Rhodes het Groote Schuur in sy testament as ampswoning aan die toekomstige Eerste Ministers van Suid-Afrika bemaak. In 1657 het kommandeur Jan van Riebeeck beveel dat 'n groot graanskuur opgerig word. Die gebou, wat op 'n landgoed teen die hange van Duiwelspiek opgerig is, het later as De Schuur bekend gestaan. In November 1791 was die Vereenigde Oost-lndische Compagnie (VOC) weens moeilike omstandighede verplig om die hele landgoed van ongeveer 41 ha te verkoop.

Dit is toe vir 53 000 gulde (ongeveer R7 500) aan Christiaan Herholdt verkoop. De Schuur het daarna verskeie kere van eienaar verwissel. In 1812 het D.G. Anosi die eienaar geword, en hy het die naam van De Schuur na De Groote Schuur verander. Hy het terselfdertyd 'n ander skuur op die landgoed in 'n woonhuis omgeskep wat as De Onder Schuur bekend sou staan. ln 1822 het hy 'n deel van De Groote Schuur aan Jan Hoets verkoop, en in 1831 het hy De Onder Schuur aan regter William West Brooke Burton verkoop. Regter Burton het die naam na West brooke verander (Iatere ampswoning van Suid-Afrikaanse Goewerneurs-generaal en Staatspresidente). Die res van die landgoed is in 1832 aan die nuwe eienaar van Westbrooke, Abraham de Smidt, verkoop.

Na talle onderverdelings het De Groote Schuur met sy hoofopstal in 1879 die eiendom van Hester Anna Myburgh geword. Sy het die naam na The Grange verander. Cecil John Rhodes het The Groote Schuur Grange en die omringende landgoed in 1893 teen 'n bedrag gelykstaande met ongeveer R120 000 gekoop. Hy het die naam Groote Schuur weer begin gebruik en aan die argitek, sir Herbert Baker, opdrag gegee om die huis volgens tradisionele Kaaps Hollandse boustyl te restoureer.

In Desember 1896 is die opstal gedeeltelik in 'n brand verwoes, en Rhodes het nooit die gebou gesien nadat dit voltooi is nie. Baker moes van voor af begin en hy het die nuwe opstal aansienlik groter as die oue gemaak. In sy testament het Rhodes Groote Schuur aan die toekomstige Eerste Ministers van Suid-Afrika bemaak, en sedert 1910 woon al die Eerste Ministers tydens die parlementsittings in Kaapstad in die ampswoning.

Dit kan egter ook as Kaapstadse ampswoning van die Staatspresident gebruik word Baie waardevolle meubels, porselein, silwer, skilderye en tapisserieë word in die opstal bewaar. Rhodes se aandenkings uit Zimbabwe is veral baie waardevol. In die biblioteek is daar onder meer manuskripte van vertalings van Romeinse geskiedkundiges wat nog nooit gepubliseer is nie. Rhodes se slaapkamer en sy badkamer met die groot granietbad is na sy dood feitlik onaangeraak gelaat. Sedertdien is verskeie noodsaaklike veranderinge egter aangebring. Die ontvangskamer is onder meer vergroot en bykomende badkamers, kleed- en waskamers moes aangebring word. Rhodes se weelderige biljartkamer moes vir 'n waardige eetkamer plek maak.

Dit het later 'n boerehuis in private besit geword. In 1893 het Cecil John Rhodes dit saam met omliggende grond teen 'n koste van £60 000 gekoop. Rhodes het opdrag gegee dat dit volgens die Kaaps-Hollandse boustyl deur die argitek sir Herbert Baker en sy vennoot Francis Edward Masey herstel word. Dit het Rhodes se persoonlike woning geword. In sy testament het hy dit bemaak as ampswoning van die toekomstige eerste ministers van die Unie van Suid-Afrika. Dit is van 1910 tot 1983 as sulks gebruik, waarna dit as presidentswoning gedien het tot 1994.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

33°57′50″S 18°27′50″O / 33.96389°S 18.46389°O / -33.96389; 18.46389