Chris Hattingh
Ds. Chris Hattingh | |
Ds. Chris Hattingh
| |
Naam | Christiaan Hattingh |
---|---|
Geboorte | 25 September 1921 |
Sterfte | 1 Augustus 2001 (op 79) |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Koster 1948–'51, Johannesburg/Johannesburg-Sentraal 1951–'53, Pretoria 1953–'66, Potchefstroom-Noord 1966–'69, Krugersdorp 1969–'86 |
Jare aktief | 1948–1986 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Ds. Christiaan Hattingh (noemnaam Chris, 25 September 1921 – 1 Augustus 2001) was tussen 1948 en 1986 predikant in vyf gemeentes of kombinasies van die GKSA, waarvan sowat 17 jaar in sy laaste gemeente, Krugersdorp.
Herkoms en opleiding
[wysig | wysig bron]Chris Hattingh se pa – wat self toe maar 26 was – is oorlede voor die babaseun op 25 September 1921 op Hofmeyr in die Oos-Kaap gebore is, net sewe jaar nadat die dorpie se naam van Maraisburg verander is om verwarring met die voorstad aan die Wes-Rand te voorkom. Sy pa het vir hom 'n plaas nagelaat en hy sou kon boer as hy wou, maar hy het van kleins af geweet hy is geroep om predikant te word.
Dr. Tjaart van der Walt skryf in sy lewensberig in die Almanak vir die jaar 2004: “(O)mdat hy werklik sy roeping beleef het, het hy sy werk altyd met vreugde gedoen. Ook ouderdom en die hartseer aftakeling van sy laaste jare kon die roepingsgevoel nie uitwis nie. Mense na aan hom weet hoe hy dikwels gehuil het omdat hy nie meer sy roeping kon uitleef nie.”
Gemeentebediening
[wysig | wysig bron]Prop. Hattingh is in 1948 in sy eerste gemeente, Koster, bevestig, maar sou net drie jaar daar bly toe hy in 1951 ’n beroep aanneem na die Gereformeerde kerk Johannesburg. Met die stigting van Johannesburg-Sentraal in 1952 het hy predikant van dié gemeente geword, maar net die volgende jaar ’n beroep na Pretoria aanvaar en sowat 13 jaar daar gebly tot hy in 1966 na Potchefstroom-Noord verskuif het. Ná ’n driejarige bediening het hy in 1969 ’n beroep na Krugersdorp aanvaar en daar gebly tot sy emeritering in 1986.
Gesinslewe
[wysig | wysig bron]Dr. Van der Walt skryf: "Van sy kinders sê hy het ook sy fiemies gehad, maar min mense buite die intieme kring het dit geweet, want 'Vroutjie' het sy voorkeursmake geken en hom veilig deur sy vooroordele gestuur. Trouens, hoe veral sy – maar ook hulle kinders, Chris, Rika en Elsa – hom tot die einde toe met die grootste liefde en geduld versorg het – was vir almal rondom hulle 'n ontroerende voorbeeld. En met die aftakeling van sy geestesvermoëns het dit al hoe meer veeleisend geword."
Waardering
[wysig | wysig bron]Prof. Tjaart van der Walt skryf in ds. Hattingh se lewensberig in die Almanak vir die jaar 2004: "Chris Hattingh was een van die nederigste en sagmoedigste mense wat ek ooit geken het. Dit was nie moeilik om vir hom lief te wees nie – hy het so spontaan liefde gegee. En dit het diep, diep uit sy hart gekom. Daarby was hy altyd onkreukbaar eerlik – skerp en onomwonde as dit oor sy eie foute gaan, maar nooit sonder begrip en deernis as hy ander oor hulle foute – en sonde – moes aanspreek nie. Terselfdertyd het hy nie in die slaggat getrap om soveel liefde na buite te gee dat hy sy eie huis afgeskeep het nie. Hy was 'n gesinsman by uitnemendheid. Ondanks sy besige program het hy altyd vir sy kinders tyd gemaak. En dan veral 'Vroutjie' (soos hy Brechtje genoem het): tot aan die einde moes sy verkieslik nooit ver van hom gewees het nie."
Dr. Van der Walt skryf ds. Hattingh was "met hart en siel 'n herder. Sy kudde was nie bloot name op 'n lysie wat stelselmatig deurgewerk moes word nie. Elke besoek was 'n persoonlike ontmoeting – bowenal met dié Herder. Dit was vir hom vanselfsprekend om eers te luister, en nogmaals te luister, voor hy die woord neem. En nooit het hy die Woord verkondig voor hy nie self aandagtig en biddend daarna geluister het nie. Hy was lief vir lees, en om teologies besig te wees, was vir hom 'n vreugde. Hy het 'n besondere liefde vir die Heilige Gees gehad. Hy het nie net graag oor die Gees gelees en gestudeer nie; hy was inderdaad 'n Geesvervulde mens. Hierbenewens het die kerk hom altyd na aan die hart gelê. Hy het deurgaans die eenheid van al God se kinders oor kerkgrense, oor volks- en kleurgrense heen – sterk beklemtoon. Hy het nooit daarmee te koop geloop nie, maar sy diep roepingsbesef was onmiskenbaar."
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Van der Walt, dr. Tjaart in Schalekamp, ds. M.E. et al. 2003. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2004. Potchefstroom: Administratiewe Buro.