[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Espressomasjien

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur InternetArchiveBot (besprekings | bydraes) op 00:47, 15 Augustus 2021 (Rescuing 1 sources and tagging 0 as dead.) #IABot (v2.0.8)
(verskil) ← Ouer weergawe | bekyk huidige weergawe (verskil) | Nuwer weergawe → (verskil)
Elektra-espressomasjien in die toonvenster van 'n winkel in Treviso. Die onderneming het sy setel in Dosson de Casier, provinsie Treviso

'n Espressomasjien is 'n toestel waarmee koffie, espresso en ander koffiespesialiteite vinnig geset kan word. Tradisioneel is koffie as filterkoffie gemaak deur kookwater op gemaalde koffiebone te gooi en deur 'n filter te laat syg. Espressomasjiene lei water teen 'n hoë druk deur die koffiepoeier en is sodoende in staat om koffieolie - 'n plantolie wat in vars en geroosterde koffiebone voorkom - optimaal te ekstraheer. Die perfekte ekstraksieproses bepaal die geur van koffie en espresso en is daarnaas 'n belangrike bestanddeel van die crema, die goue skuim bo-op espresso.

Futuristiese skilderkuns verbind die dinamisme van die moderne stedelike lewe met espressokultuur[1]
Umberto Boccioni: Rissa in galleria. Olie op doek (1910)
'n Romantiserende uitbeelding van stoomkrag as aandrywer vir lokomotiewe en espressomasjiene: Advertensieplakkaat vir Pier Teresio Arduino se espressomasjien Victoria Arduino (1922)
Ontwerp: Leonetto Cappiello (1875–1942)

Espresso en espressomasjiene het hul oorsprong in die industriële en middelklaskultuur van Noord-Italië. Interessant genoeg het Noord-Italianers voortgegaan om die 19de eeuse stoomgebaseerde tegnologie van koffie- en espressobereiding verder te ontwikkel wat in die meeste ander lande laat vaar is ten gunste van alternatiewe metodes. In elk geval stel Italiaanse advertensiekuns vanaf die vroeë 1920's espresso as 'n simbool vir die vinnige pas van die moderne stedelike lewe en vir energie voor, soos in die vervaardiger Victoria Arduino se befaamde plakkaat van 1922 waar stoomkrag romantiserend as kragbron vir sowel lokomotiewe asook espressomasjiene uitgebeeld word.[2] Die ontwerp van Italiaanse espressomasjiene toon in hierdie periode inderdaad dikwels ooreenkomste met lokomotiewe.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Édouard Loysel de Santais

[wysig | wysig bron]

Die eerste espressomasjien ter wêreld is deur Édouard Loysel de Santais ontwikkel en ter geleentheid van die Wêreldtentoonstelling in Parys in 1855 as percolateur bekendgestel. Die fokus was tweeërlei - enersyds om die grootste moontlike getal besoekers met vars koffie te kan bedien, maar andersyds ook om koffie van hoë gehalte en met eksklusiewe geure en aroma te kan skink. Koffie is teen 'n hoë druk geëkstraheer, waarby die druk met 'n hele stelsel reëlkleppe en krane noukeurig gereël moes word.

Vir hierdie prototipe is stoomdruk nogtans nie gebruik om koffie regstreeks te ekstraheer nie. Die water (wat deur gasbranders verhit is) is in plaas daarvan in 'n houer bo-oor die koffie gepomp voordat dit deur 'n ingewikkelde stelsel van buise oor die koffiepoeier gevloei het. Die benodigde druk vir die ekstraksieproses is sodoende nie deur stoom nie, maar deur die gewig van die verhitte water verkry (die percolateur was drie meter hoog). Volgens destydse besoekers en waarnemers kon Santais se masjien tweeduisend koppies koffie per uur berei - potgewys, net soos espresso ook vandag nog dikwels in Frankryk berei word.[3] Sommige deskundiges het die beweerde kapasiteit van tweeduisend koppies per uur om tegniese redes in tyfel getrek.[4]

Angelo Moriondo

[wysig | wysig bron]
La Brasiliana - een van Moriondo se espressomasjiene

Stoomdruk as basistegnologie vir vinnige outomatiese koffiebereiding is verder ontwikkel deur Angelo Moriondo (1851–1914), 'n boorling van Turyn. Op 30 Junie 1884 het hy 'n patent vir 'n nuwe soort koffiemasjien laat registreer wat as een van die vroegste espressomasjiene beskou word. Sy silindriese toestel het oor 'n waterverhitter beskik wat waterpeil en stoomdruk aangedui het en is daarnaas van 'n veiligheidsklep en 'n handvatsel voorsien wat vinnig gemonteer kon word. Die masjien was in staat om een of meer koppies koffie te berei. Ongelukkig het Moriondo net enkele prototipes vir sy Turynse kroeë vervaardig waarvan enkele modelle tans in museums vertoon word.[5]

Luigi Bezzera

[wysig | wysig bron]

So is eers dekades later in 1901 in Noord-Italië met die industriële vervaardiging van espressomasjiene begin. Die eerste masjien (bekend as Tipo Gigante), wat deur Luigi Bezzera in Milaan ontwikkel en gepatenteer is, was tegnies nog ingewikkeld en duur. Dit het uit vier setgroepe (vir verskillende formate van koffiefilters) en 'n waterverhitter bestaan. Stoom en kokende water is deur fyngemaalde koffiepoeier gepers. Die stoom- en waterdruk kon deur verskillende ventiele gereël word. Aangesien hierdie vroeë masjiene slegs deur geskoolde personeel bedien kon word, is hierdie masjiene slegs in 'n klein getal restaurante en koffiehuise aangetref. Nogtans was espresso 'n groot sukses.

Desiderio Pavoni

[wysig | wysig bron]
Advertensie vir 'n La Pavoni-espressomasjien (1912)

In 1903 is Bezzera se patent deur Desiderio Pavoni gekoop. Twee jaar later het sy onderneming La Pavoni met die vervaardiging van eie masjiene volgens Bezzera se tegniese beginsel begin. Aanvanklik is een masjien per dag in 'n klein werkswinkel in Via Parini in MIlaan vervaardig, maar kort voor lank kon die proses versnel en na 'n fabriek verskuif word. Die grootste nadeel van La Pavoni-masjiene was die hoë water- en stoomtemperature wat nie maklik gereël kon word nie en waardeur espresso dikwels 'n verbrande smaak gekry het.

Francesco Illy

[wysig | wysig bron]

Francesco Illy het in 1935 daarin geslaag om hierdie tegniese vraagstuk met 'n nuwe benadering op te los. Sy model Illetta was die eerste espressomasjien ter wêreld wat die hoeveelheid water vir die ekstraksieproses outomaties kon aanpas - en sodoende as die eerste outomatiese espressomasjien beskou word. Druk vir die ekstraksieproses is deur druklug in plaas van stoom gegenereer. Verhitter en drukopwekker is daarnaas volledig van mekaar geskei om die verbranding van die koffiepoeier te voorkom.[6]

Antonio Cremonese en Achille Gaggia

[wysig | wysig bron]

Antonio Cremonese het in 1936 'n nuwe tegniese beginsel vir koffie-ekstraksie ontwikkel. In sy masjiene het 'n groot veer, wat deur 'n handvatsel saamgepers kon word, 'n suier aangedryf om water te komprimeer. Hierdie nuwe model is in Gaggia se koffiekroeg in bedryf gestel, maar verdere tegniese ontwikkeling en bemarking is deur Cremonese se ontydige afsterwe nog in dieselfde jaar en die Tweede Wêreldoorlog belemmer. Achille Gaggia het die patent van Cremonese se weduwee, Rosetta Scorza, gekoop en in 1946 met die vervaardiging van die suiermasjien begin. Dit was die eerste masjien wat perfekte crema kon oplewer.

Carlo Ernesto Valente

[wysig | wysig bron]
Faema E61-espressomasjien (1961)

Die volgende tegnologiese vernuwing het danksy Carlo Ernesto Valente se navorsing tot stand gekom. Reeds in 1945 het Valente in Milaan met sy onderneming Fabbrica Apparecchiature Elettro Meccaniche e Affini (kortweg Faema genoem) begin om koffiemasjiene te vervaardig. Sestien jaar later het hy 'n tegnologiese deurbraak met sy espressomasjien Faema E61 gemaak waarin die veer deur 'n elektroniese volumetriese rotasiepomp vervang is. Water is in hierdie masjien koud gekomprimeer voordat dit in die hitteruiler gepomp en verhit is. Daarna is dit - teen 'n konstante optimale temperatuur van 90 °C en 'n druk van 9 atmosfeer - oor die koffiepoeier verdeel. Enkele sekondes voor die ekstraksieproses is die koffiepoeier nog met waterdruppeltjies besprenkel om 'n optimale resultaat met 'n maksimum geure en aroma te behaal.[7]

Water vir hierdie professionele masjien is regstreeks uit die wateraansluiting deur 'n waterpyp na die verhitter gepomp en bowendien gefiltreer. Sodoende kon met die Faema E61 kontinu espresso berei word.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Geskiedenis