Hartoorplanting
'n Weergalose prestasie in die mediese geskiedenis van die wêreld is die nag van Saterdag, 3 Desember 1967 in Suid-Afrika behaal. In 'n middernagtelike operasie van langer as vyf uur het 'n span hartchirurge en mediese tegnoloë van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad die eerste hartoorplanting in 'n mens gedoen.
'n Joodse sakeman van Seepunt, Louis Washkansky (53) was die eerste ontvanger van 'n oorgeplante hart. Weldra sou sy naam in groot opskrifte in elke nuusblad van die wêreld verskyn, saam met die van die leier van die hartspan, prof. dr. Christiaan Neethling Barnard.
Die eerste hartskenker was mej. Denise Darvall. Sy en haar moeder is die Saterdagmiddag omtrent 'n kilometer van die Groote Schuur-hospitaal deur 'n motor omgery. Haar moeder is op slag dood. Daardie middag was die bewustelose Denise bestem om onwetend 'n rol in een van die grootste mediese dramas van alle tye te speel. Haar brein was onherstelbaar beskadig, maar haar hart het nog geklop. Kort voor middernag het twee dokters die gebroke mnr. Edward Darvall, Denise se vader, in die hospitaal genader. "Ons het ons bes gedoen, niks kan u dogter se lewe red nie." Toe vra hulle hom of hy sou toelaat dat sy dogter se hart op 'n sterwende man oorgeplant word. Mnr. Darvall het ingestem.
Denise se hart het kort voor middernag gaan staan. Narkose is op Louis Washkansky toegedien. Denise se hart is eers met koue bloed uit 'n hart-longmasjien verkoel, en toe verwyder. Dit is ondersoek en onbeskadig bevind. In die operasiesaal langsaan het prof. Chris Barnard sonder tydsverspilling Washkansky se borsholte oopgesny en sy ou hart verwyder. "Dit was my die oomblik van waarheid," sou prof. Barnard later sê, "pas nadat ek Washkansky se hart uitgehaal het. Voor my het 'n man sonder hart gelê, maar wat tog leef. "
Die nuwe, verkoelde hart was veel kleiner as Washkansky se oue, en moes reg geknip en gemeet word om in sy borskas te kom. Toe is die bloedstroom geleidelik verwarm. Die hart het nie geklop nie. Almal was baie gespanne. Eensklaps het die nuwe hart begin fibrilleer. Die senuvesels in die hartkamer het die hartspier begin opwek. Maar die hart het nie geklop nie, en daar is besluit om 'n elektriese skok toe te dien. Met die eerste skok het die hart begin klop.
"Hemel, dit gaan werk!" was Chris Barnard se verheugde uitroep. Die hart het bestendig geklop. Die wêreld se eerste hartoorplanting het geslaag. Na verdere toetse was die operasie afgehandel en dr. Barnard het uitgestap. Later is die lede van die hartspan huis toe. Dit was Sondagmore. Een van hulle, dr. Marius Barnard, Chris Barnard se broer, is eers kerk toe, na die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die kerk van sy sendelingvader.
"Ek het altyd geglo," het Marius gesê. "Nou glo ek sterker as ooit." Prof. Chris en dr. Marius Barnard het in die sendingpastorie op die Karoodorp Beaufort-Wes grootgeword. Die Barnards het 'n eenvoudige, byna armoedige bestaan gevoer. Adam, vader van die twee beroemde dokters, het hom die lewensdoel gestel om die Evangelie onder die Kleurlinge te verkondig en om sy vier seuns 'n behoorlike opvoeding te gee. Op R40 per maand het hy nie alleen vir sy vrou en seuns gesorg nie, maar dit ook reggekry om drie van hulle universiteit toe te stuur.
Die vraagstuk van verwerping
wysig"Die wonderwerk van Groote Schuur," het 'n Amerikaanse tydskrif die wêreld se eerste hartoorplanting genoem. Hierdie wonderwerk sou sonder 'n ander belangrike lid van die hartspan onmoontlik gewees het. Hy is dr. M.C. Botha, die immunoloog of weefselkeurder. Dr. Botha moet as een van die wêreld se grootste deskundiges op die gebied van orgaan-verwerping beskou word.
Die witbloedselle van die liggaam is die "soldate" van die bloed. Hul taak is om enige vreemde stowwe wat in die liggaam kom, aan te val. Die witselle kan ongelukkig nie onderskei tussen 'n nadelige siekte en 'n vreemde orgaan wat met die beste bedoelings oorgeplant word nie. Nou het medici daarin geslaag om weefsels te tipeer, sodat vooruit vasgestel kan word of een liggaam se weefsel met 'n ander versoenbaar sal wees of nie. Die tegniek van weefseltipering is een van die maniere om verwerping te bekamp.
Nog hartoorplantings
wysigAgtien dae na sy operasie is Louis Washkansky aan longontsteking oorlede, nie aan die verwerping van sy nuwe hart nie. In die VSA is intussen 'n hart in 'n baba oorgeplant, wat net 60 uur daarna geleef het. Die derde hartoorplanting was dié in dr. Philip Blaiberg, weer deur prof. Barnard. Hierdie keer was die skenker 'n Kleurling, Clive Haupt. 'n Tyd lank was dr. Blaiberg die wêreld se enigste oorlewende hartoorplantingspasiënt, maar hy is·oorlede negentien maande nadat hy sy nuwe hart ontvang het. Prof. Barnard se derde hartoorplantingspasiënt, mnr. Pieter Smith, het 21 maande na die operasie gesterf.
Teen daardie tyd is hartoorplantings al in verskeie lande van die wêreld gedoen, ook in Durban. Altesame 101 hiervan was in 1968, toe dit 'n prestige-operasie begin word het, maar die resultate was nie altyd goed nie.
Prof. Barnard se vierde hartoorplanting is op 7 April 1969 gedoen, maar die pasiënt het net 'n maand met sy nuwe hart gelewe. Net daarna, op 17 April 1969, het mej. Dorothy Fisher (38), tot dusver Suid-Afrika se langste oorlewende hartoorplantingspasiënt, die hart van 'n onbekende 58-jarige Kleurling ontvang. Sy was die eerste vrou in Suid-Afrika wat 'n hart ontvang het, en het op 17 April 1978 reeds nege jaar na die oorplanting gelewe. Einde 1974 was reeds meer as 200 hartoorplantings in die wêreld gedoen. Op 25 November 1974 het die Barnard-span in Kaapstad 'n nuwe prestasie behaal toe hulle die hart van 'n tienjarige meisie in 'n 58-jarige ingenieur oorgeplant het sonder om sy siek hart te verwyder. Die operasie, waarin die twee voorste linkeratriums asook die twee groot are van die linkeronderhartkamers aan mekaar gekoppel is, was die eerste van sy soort in die wêreld. Die nuwe hart, wat as "hulp" vir die siek hart gedien het, het langs die oue geklop. Drie jaar later was daar al 17 van hierdie sg. "abbaharte" oorgeplant, en het dertien van die ontvangers nog gelewe. In die vierde abbahartoorplanting is ook twee gangmakers in die pasiënt oorgeplant om sy twee harte te beheer. Een van die gangmakers is later uitgehaal.
In November 1977 het prof. Barnard weer opspraak verwek deur 'n bobbejaanhart in 'n Italiaanse vrouepasient oor te plant in 'n laaste poging om haar lewe te red. Sy is 'n paar uur later oorlede omdat die hart te klein was. 'n Sjimpanseehart sou groter en sterker wees, het prof. Barnard verklaar, en dieselfde jaar een oorgeplant in 'n 59-jarige geoktrooieerde rekenmeester van Kaapstad. Ook hy is vyf dae later oorlede. Weens die intense verwerping van die vreemde weefsel was dit duidelik dat bobbejaan- of sjimpanseeharte selfs nie eens tydelik van enige nut kan wees nie, en prof. Barnard het dus besluit om hierdie tegniek te laat vaar.
Kort hierna is die abbahart wat mnr. J.J.A. van Rooyen van Stellenbosch drie maande tevore ontvang het, weer verwyder nadat dit gaan staan het. Hy het voorheen aan totale hartversaking gely. Dit was nog 'n deurbraak vir prof. Barnard toe hy bewys het dat mnr. Van Rooyen se eie hart intussen so herstel het dat hy nie meer die abbahart nodig gehad het nie.
Die weg wat prof. Chris Barnard ingeslaan het, was 'n gevaarlike een, wat hom baie kritiek op die hals gehaal het. Maar die tyd het bewys dat hy reg gehandel het en tereg as een van die grootste baanbrekers van die mediese wetenskap beskou kan word.
Hoe 'n hart oorgeplant word
wysigDie hart is maar net 'n pomp. Dit het geen ander funksie in die liggaam nie en mens kan dus sy pompaksie op twee maniere vervang: of deur 'n ander, gesonde hart in die siek hart se plek te sit, of deur 'n meganiese pomp te maak wat die hart vervang. Laasgenoemde moontlikheid word tans ondersoek en daar is baie kenners wat dit as die uiteindelik beste metode beskou.
Omdat 'n hartoorplanting so ernstig is, word natuurlik gesorg dat slegs pasiënte wat andersins sekerlik sou sterf, gekies word om nuwe harte te ontvang. Die eerste hartoorplantingspasiënt was so siek dat hy sonder 'n nuwe hart binne dae sou sterf. Mettertyd, wanneer tegnieke beter word, sal mense met hartkwale wie se algemene gesondheidstoestand egter redelik is, gebruik kan word en dan sal die resultate moontlik ook verbeter.
Nadat daar besluit is om 'n hartoorplanting te doen, moet 'n skenker gevind word wat tot dieselfde bloed- en weefselgroep as die ontvanger behoort. Soos verwag kan word, neem dit soms dae of weke voor so 'n geskikte skenker eindelik opdaag. Die hartspan moet gereed staan, en elke ernstig-beseerde persoon wat as skenker in aanmerking kom, word haastig ondersoek om te sien of sy bloed geskik is. As die regte persoon gevind word, moet toestemming eers van sy naasbestaandes verkry word. Dan kan die hartspan begin werk.
Sodra die dokters vasgestel het dat die skenker wel dood is, word die borskas baie vinnig oopgemaak en die hart uitgehaal. Die skenker se bloed word met 'n soutoplossing uitgespoel en die hart word verkoel om te voorkom dat die weefsel degenereer. Nou is die hart gereed vir oorplasing.
Die pasiënt wat die hart moet ontvang, word intussen onder narkose geplaas en sy borskas wyd oopgesny. Nou word pype aan die hoofslagare en die hoofare geheg sodat die bloed na 'n hart-longmasjien, wat sowel die funksie van die hart as die van die longe kan oorneem, omgelei kan word. Die masjien pomp dus nou die bloed en vul die suurstofinhoud daarvan aan. Sodra al die buise in posisie is en die span wat die skenker voorberei, gereed is, word die are afgebind, die hart-longmasjien in werking gestel en die hart uit die pasiënt se liggaam verwyder. Die masjien kan nou vir 'n baie lang tyd voortgaan om hart en longe vir die pasiënt te speel, en die chirurg het dus voldoende tyd om die nuwe hart in die borskas te plaas.
Die slagare word aanmekaar geheg met fyn sydraadjies, en wanneer alles goed dig is, word die klemme op die are verwyder en die bloed vloei deur die nuwe hart. In hierdie stadium word die hart-longmasjien nog nie afgeskakel nie; dit word geleidelik gedoen eers wanneer dit seker is dat die nuwe hart goed klop. Om die nuwe hart aan die gang te sit, is 'n elektriese skokkie dikwels nodig. Die pasiënt se bloeddruk word noukeurig dopgehou en wanneer alles weer goed lyk, word die buise uitgehaal en die borskas toegewerk.
Na afloop van die operasie begin die chirurg se groot probleme eers. Die nuwe hart word deur die liggaam beskou as 'n vreemde voorwerp, en die liggaam sal probeer om dit te verwerp. Hierdie verwerpingsneiging is permanent, en die pasiënt moet vir die res van sy lewe medisyne neem wat die verwerpingsmeganisme van sy liggaam onderdruk. As hy ophou, sal sy nuwe hart dadelik vir sy weefsels onaanvaarbaar word. Ongelukkig is die verwerpingsmeganisme dieselfde as die verdedigingsapparaat teen kieme, en dus is die pasiënt wat die onderdrukkingsmiddels drink, nie teen infeksie bestand nie. Die geringste ontstekinkie, wat vir 'n normale persoon onbenullig sou wees, is vir hierdie pasiënte lewensgevaarlik.
Die eerste paar weke na die operasie word die pasiënt in 'n absoluut steriele kamer gehou. Selfs die mense wat hom verpleeg, word gereeld elke dag ondersoek om te verseker dat hulle geen infeksies dra nie.
Bronnelys
wysig- Kennis, Volume 1, 1980, bl.92-93, ISBN 0-7981-0823-1