[go: up one dir, main page]

Antonius van Egipte

Sint Antonius (Grieks: Ἀντώνιος, Antonios; Latyn: Antonius; omstreeks 251-356 n.C.) was ’n Christelike monnik van Egipte wat ná sy dood tot heilige verklaar is. Hy word van ander heiliges met dieselfde naam onderskei deur die name Antonius die Grote, Antonius van Egipte, Antonius die Ab, Antonius van die Woestyn en Antonius van Thebe. Vir sy belangrikheid onder die Woestynvaders en die Christelike kloosterwese is hy ook bekend as die Vader van Alle Monnike. Sy feesdag is op 17 Januarie in die Grieks-Ortodokse en die Rooms-Katolieke Kerk en op Tobi 22 op die Egiptiese kalender wat die Kopties-Ortodokse Kerk gebruik.

Sint Antonius van Egipte

’n Koptiese ikoon van sint Antonius (links onder saam met sint Paulus, die eerste hermiet).
Eerwaarde en God-draende
Vader van monastiese lewe
Gebore ca. 251, Heracleopolis Magna, Egipte
Sterfte 356, Berg Colzim, Egipte
Vereer in Kopties-Ortodokse Kerk
Assiriese Kerk van die Ooste
Oosters-Ortodokse Kerk
Oriëntale Ortodoksie
Rooms-Katolieke Kerk
Anglikanisme
Pelgrimsoord Klooster van Sint Anthony, Egipte
Saint-Antoine-l'Abbaye, Frankryk
Feesdag 17 Januarie (22 Tobi)
Attribute klok; vark; boek; Tau-kruis,[1][2] Tau-kruis met klok hanger[3]
Beskermheilige velsiektes, mandjiemakers, borselmakers, grafgrawers[4]

Sy biografie deur Atanasius van Alexandrië het gehelp om die idee van die Christelike kloosterwese te versprei, veral in Wes-Europa danksy die vertalings daarvan in Latyn. Hy word dikwels verkeerdelik beskou as die eerste Christelike monnik, maar soos sy biografie en ander geskrifte dit duidelik stel, was daar voor hom ander askete. Antonius het egter eerste in die wildernis gaan woon (omstreeks 270 n.C.) – ’n feit wat blykbaar tot sy bekendheid bygedra het.[5] Verhale van hoe Antonius tydens sy verblyf in die woestyn bonatuurlike versoekings weerstaan het, het gelei tot die dikwels herhaalde tema van "die versoeking van sint Antonius" in die Westerse kuns en letterkunde.

Antonius word aangeroep in tye van besmetlike siektes, veral velaandoenings. In die verlede is die term "Sint Antoniusvuur" dikwels gebruik in verwysing na baie sulke siektes, soos kriebelsiekte, belroos en gordelroos.

Verwysings

wysig
  1. Jack Tresidder, red. (2005). The Complete Dictionary of Symbols. San Francisco: Chronicle Books. ISBN 0-8118-4767-5.
  2. Cornwell, Hilarie; James Cornwell (2009). Saints, Signs, and Symbols (3rd uitg.). Harrisburg: Morehouse Publishing. ISBN 0-8192-2345-X.
  3. Liechtenstein, the Princely Collections, catalogue of Metropolitan Museum of Art, New York, bl. 276 [1]
  4. Michael Walsh, red. (1991). Butler's Lives of the Saints (Concise, Revised & Updated, 1st HarperCollins uitg.). San Francisco: HarperSanFrancisco. ISBN 0-06-069299-5.
  5. Endsjø, Dag Øistein (2008). Primordial landscapes, Incorruptible Bodies. New York: Peter Lang Publishing. ISBN 1-4331-0181-5.

Eksterne skakels

wysig