Alfred, Hertog van Sakse-Koburg en Gotha
Alfred, die Hertog van Sakse-Koburg en Gotha (Alfred Ernest Albert; 6 Augustus 1844 – 30 Julie 1900) was die tweede seun en vierde kind van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk en Albert van Sakse-Koburg en Gotha. Hy het op 24 Mei 1866 die titels Hertog van Edinburg, Graaf van Kent en Graaf van Ulster gekry. Op 23 August 1893 het hy sy oom Ernst as die heersende Hertog van Sakse-Koburg en Gotha in die Duitse Ryk opgevolg.
Prins Alfred | |
---|---|
Hertog van Sakse-Koburg en Gotha Hertog van Edinburg | |
Volle naam | Alfred Ernest Albert |
Eggenote | Groothertogin Maria Aleksandrowna van Rusland |
Kinders | Alfred, Marie, Victoria Melita, Alexandra, Beatrice |
Titels | SKH Hertog van Sakse-Koburg en Gotha SKH die Hertog van Edinburg SKH prins Alfred |
Huis | Huis van Sakse-Koburg en Gotha |
Vader | Albert van Sakse-Koburg en Gotha |
Moeder | Victoria van die Verenigde Koninkryk |
Gebore | 6 Augustus 1844; Windsor-kasteel, Berkshire |
Oorlede | 30 Julie 1900; Rosenau-kasteel, Koburg |
Huwelik
wysigOp 23 Januarie 1874 het die Hertog van Edinburg in die Winterpaleis, Sint Petersburg, getrou met groothertogin Maria Aleksandrowna van Rusland, die tweede (en enigste oorlewende) dogter van tsaar Aleksander II van Rusland en sy vrou, Marie van Hesse en by Ryn. Om dit te vier, het ’n klein Engelse bakkery die nou internasionaal gewilde Mariebeskuitjie gemaak, met die hertogin se naam bo-op gegraveer.[1]
Latere lewe
wysigDie hertog se enigste seun, erfprins Alfred, het na bewering in ’n skandaal betrokke geraak en homself in Januarie 1899 geskiet, te midde van sy ouers se viering van hul 25ste huweliksherdenking. Hy het dit oorleef, maar sy verleë ouers het hom na Merano gestuur om te herstel. Hy is twee weke later, op 6 Februarie, hier dood. Die hertog self is op 30 Julie 1900 aan keelkanker dood by Schloss Rosenau, sy somerwoning buite Koburg. Hy is opgevolg as die Hertog van Sakse-Koburg en Gotha deur sy broerskind, prins Charles Edward, Hertog van Albany.
Kinders
wysigNaam | Gebore | Dood | Notas |
---|---|---|---|
Prins Alfred | 15 Oktober 1874 | 6 Februarie 1899 | Erfprins van Sakse-Koburg en Gotha vanaf 22 Augustus 1893 |
Prinses Marie | 29 Oktober 1875 | 18 Julie 1938 | Getroud met koning Ferdinand van Roemenië |
Prinses Victoria Melita van Sakse-Koburg en Gotha | 25 November 1876 | 2 Maart 1936 | Getroud met (1) Ernst Ludwig, Groothertog van Hesse; geskei |
Prinses Alexandra van Sakse-Koburg en Gotha | 1 September 1878 | 16 April 1942 | Getroud met prins Ernst van Hohenlohe-Langenburg |
doodgebore seun | 13 Oktober 1879 | 13 Oktober 1879 | |
Prinses Beatrice van Sakse-Koburg en Gotha | 20 April 1884 | 13 Julie 1966 | Getroud met Don Alfonso, Infante van Spanje |
Erflatenskap in Suid-Afrika
wysig- Die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad is na prins Alfred en koningin Victoria genoem. Die prins het die bou van die hawe in 1860 begin toe hy Suid-Afrika besoek het. Die eerste hawekom is na hom genoem en die tweede na sy ma, vandaar die naam.
- Prins Alfredpas by Knysna.
- Daar is ’n Prins Alfred-straat in Pietermaritzburg, Queenstown, Grahamstad, Durban en Caledon.
- Port Elizabeth se Fifa-wêreldbekerstadion word in Prince Alfred-park gebou.
- Prins Alfred het Port Elizabeth op 6 Augustus 1860 binnegevaar en sy 16de verjaardag daar gevier.[2]
- Daar was baie jare lank ’n Prins Alfred-hospitaal in Grahamstad.
- Die Alfred-roeiklub is in 1864 in Tafelbaai gestig.
- Prince Alfred's Hamlet is ’n dorp in die Wes-Kaap.
- Die dorp Port Alfred lê aan die Kowierivier in die Oos-Kaap.
Verwysings
wysig- ↑ La Tienda, 2-Pack Maria Cookies by Cuetera, archived from the original on 27 September 2007, https://web.archive.org/web/20070927192312/http://www.tienda.com/food/products/co-01-2.html, besoek op 14 Maart 2009
- ↑ http://www.theherald.co.za/colarc/hughb/hb07122007.htm Geargiveer 15 November 2008 op Wayback Machine]
Bronne
wysig- McKinlay, Brian The First Royal Tour, 1867–1868, (Londen: Robert Hale & Company, c1970, 1971) 200p. ISBN 0-7091-1910-0
Notas
wysig- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Alfred, Duke of Saxe-Coburg and Gotha