Patriarg Filaret van Moskou
Patriarg Filaret | ||||
Patriarg Filaret, ’n 19de-eeuse skildery | ||||
Kerk | Russies-Ortodokse Kerk | |||
Setel | Moskou | |||
Termyn | 1619-1633 | |||
Russies | Филарет | |||
Kerkampte | ||||
Voorganger | Hermogenes | |||
Opvolger | Joasaf I | |||
Persoonlike besonderhede | ||||
Geboortenaam | Fjodor Nikititsj Zacharin-Joerijef (Фёдор Никитич Захарьин-Юрьев) | |||
Gebore | 1553 | |||
Geboorteplek | Moskou, Tsaredom van Rusland | |||
Oorlede | 1 Oktober 1633 | |||
Sterfteplek | Moskou, Tsaredom van Rusland | |||
Nasionaliteit | Russies | |||
Feesdag | 19 November | |||
Heiligmaking | 13 Oktober 1994 | |||
|
Patriarg Filaret (Russies: Филарет, 1553 - 1 Oktober 1633) is gebore as Fjodor Nikititsj Zacharin-Joerijef (Фёдор Никитич Захарьин-Юрьев) in 'n Russiese bojare-gesin. Nadat hy tydelik in onguns verval het, het hy patriarg van Moskou geword. Hy was die eerste lid van sy familie wat die van Romanof (Романов) aangeneem het en was die de facto-heerser tydens die bewind van sy seun, tsaar Michail van Rusland. His op 13 Oktober 1994 tot heilige verklaar. Sy feesdag is op 19 November.
Opgang
[wysig | wysig bron]Fjodor word in Moskou gebore as die tweede seun van die vooraanstaande bojaar Nikita Romanowitsj Zacharin-Joerijef (die seun van Roman Joerijewitsj Zacharin en broer van tsarina Anastasia Romanowna),[1] en verander later die familie se van na Romanof. Tydens die bewind van sy neef Fjodor I (1584-1598) blink die jong Fjodor Romanof uit as soldaat en diplomaat – in 1590 in die oorlog teen die magte van Johan III van Swede, en van 1593 tot 1594 in onderhandelinge met die ambassadeurs van die Romeinse keiser Rudolf II. Hy word in 1583 ’n bojaar.
Toe tsaar Fjodor sonder erfgename sterf, is hy die gewildste keuse vir die troon, maar hy berus in die verkiesing van Boris Godoenof. Drie jaar later dwing Godoenof hom en sy vrou, Ksenia Sjestowa, om kloostergeloftes af te lê onder die name Filaret en Marta.
Filaret bly onder die strengste aanhouding in die Antonijef Sijiski-klooster in die noorde van Rusland, waar hy blootgestel word aan elke denkbare vernedering. Toe Vals Dmitri I die Godoenofs se bewind omvergooi, laat hy Filaret vry en stel hom aan as biskop van Rostof (1605).
In 1609 word Filaret deur Vals Dmitri II aangewys as patriarg. Van 1610 af is hy ’n gevangene van die Poolse koning Sigismund III Wasa, wat hy geweier het om as tsaar van Moskowië te erken toe hy in 1610 op ’n afvaardiging na die Poolse kamp gestuur is. Op 13 Februarie 1619 word hy vrygelaat met die Wapenstilstand van Deulino en op 2 Junie in dieselfde jaar word hy ingeseën as patriarg van Moskou en Rusland.
Bewind
[wysig | wysig bron]Sedertdien, tot met sy dood, het Moskowië in werklikheid twee heersers, tsaar Michail en sy pa, die "heiligste patriarg Filaret". Teoreties is hulle mede-heersers, maar Filaret gaan dikwels ooreenkomste aan sonder om die tsaar te raadpleeg. Sy belangrikste binnelandse maatreël is om die landbouers aan die grond te bind om sodoende die groter wordende aantal verdrukte lyfeienes te keer om na die steppe uit te wyk waar hulle Kosakke word in plaas van belastingbetalers.
Filaret se beywering vir die reinheid van ortodoksie laat hom soms buitensporig optree, maar hy moedig die publikasie van teologiese werke aan en beveel dat elke aartsbiskop ’n kweekskool moet stig, en hyself stel die voorbeeld. Hy herorganiseer ook die Moskowiese leër met behulp van buitelandse offisiere.
Kinders
[wysig | wysig bron]Fjodor Romanof het ses kinders gehad:
- Boris († 30 November 1592)
- Nikita († 9 Desember 1593)
- Lev († 1 Oktober 1597)
- Tatiana († 14 November 1611), getroud met prins Iwan Michailowitsj Katiref-Rostofski († 1640)
- Michail
- Iwan († 17 Junie 1599)