Sheila Cussons
Sheila Cussons | |
---|---|
Gebore | Matawië, Piketberg | 9 Augustus 1922
Sterf | 25 November 2004 (op 82) Vredehoek, Kaapstad |
Beroep | Skilderes, digteres, skryfster |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Noemenswaardige werke | Plektrum |
Noemenswaardige toekennings | Hertzogprys, e.a. |
Eggenoot | C.J.M. Nienaber Juan de Saladrigas |
Kinders | Jordi en Jaime |
Sheila Cussons (1922–2004)[1] was 'n Afrikaanse digter en skilder. Benewens haar talent as skilderes en beeldende kunstenares, was sy een van die belangrikste digters in Afrikaans.[2] Vir haar debuutbundel, Plektrum (1970), is sy met die Ingrid Jonkerprys, Eugène Maraisprys en die WA Hofmeyrprys bekroon. Daarna het nog tien ander bundels en meer pryse gevolg, onder andere die CNA-prys vir Letterkunde (1981) en die Louis Luytprys (1982). In 1983 is die gesiene Hertzogprys vir poësie vir haar hele oeuvre toegeken. Sy het 11 digbundels in haar leeftyd laat verskyn.
Cussons is by die Morawiese sendingstasie naby Piketberg, Suid-Afrika, gebore. As student behaal sy 'n BA graad in skone kunste by die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. Die digter D.J. Opperman was haar vroeë mentor, en het haar beïnvloed om in Afrikaans te skryf eerder as Engels. Tydens haar huwelik met C.J.M. Nienaber het hulle in Amsterdam gewoon. Ná haar egskeiding, en 'n verblyf in Londen, het sy na Suid-Afrika teruggekeer. In 'n tweede huwelik, met Joan de Saladrigas, het sy na Barcelona verhuis. Twee seuns is uit die huwelik gebore. Sy keer na 21 jaar na Suid-Afrika terug, waar Joan haar by geleentheid besoek. Sy het 'n langdurende korrespondensie met N.P. van Wyk Louw gevoer, wat hulle wedersyds as opbouend vir hul werk beskou het. Nietemin het sy haarself altyd in die eerste instansie as 'n beeldende kunstenares gesien, en as digteres daarnaas. Na 'n dekade lange verblyf in Nazareth Huis, 'n Katolieke inrigting in Vredehoek, sterf sy daar in 2004 op die ouderdom van 82.[3]
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Sheila Cussons is op 9 Augustus 1922 op die sendingstasie Morawië naby Piketberg gebore as een van drie kinders. Sy het ’n broer, André, en ’n suster, Maureen. Haar vader is van Ierse afkoms en haar moeder, ’n verpleegster, is Afrikaans. As spoorwegamptenaar word haar vader baie keer verplaas, wat meebring dat sy op verskeie dorpe en stede dwarsdeur die land grootword en altesaam dertien skole bywoon. Sy bly onder andere op Witrivier, Modderfontein, Beaufort-Wes, Port Elizabeth (twee kere) en Pretoria.[4] In 1938 slaag sy matriek aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, die eerste keer dat sy in Afrikaans onderrig kry. Vanaf 1939 studeer sy met ’n beurs in die Skone Kunste aan die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg, waar sy in 1942 die B.A.-graad in Skone Kunste met lof behaal en die Goue Medalje van die Fakulteit verower. Die jaar daarna verwerf sy die Hoër Onderwysdiploma met dubbele onderskeiding. In 1943 tree sy in die huwelik met die letterkundige en skrywer C.J.M. (Stoffel) Nienaber. Sy is eers vir ’n kort rukkie waarnemende dosent in Kuns aan die Natalse Universiteitskollege, maar aanvaar dan ’n betrekking later in 1943 as lektrise in Kuns aan die Tegniese Kollege in Pietermaritzburg, ’n pos wat sy tot 1946 beklee. Hierna is sy na Worcester waar sy tydelik verbonde is aan die Hugo Naudé-kunssentrum, met Jean Welz as hoof. In Johannesburg, Kaapstad en Pretoria hou sy ook enkele kunsuitstallings in hierdie periode, wat ook beeldende kuns insluit. Sy is deel van ’n besonder nou vriendekring Afrikaners in Pietermaritzburg in Natal, wat die Nienabers (Gawie en Stoffel), Jan Scannell, Flip Grobler en D.J. Opperman insluit. Opperman neem haar onder sy vlerke en moedig haar aan om uitsluitlik in Afrikaans te skryf, maar eers te reis sodat die verryking van hierdie belewenis neerslag kan vind in haar werk. Opperman neem dan ook sewe van haar gedigte op in die bundel “Stiebeuel”, wat hy in 1946 saam met F.J. le Roux opstel.
Lewe in Europa
[wysig | wysig bron]Cussons skryf haarself in vir ’n M.A.-graad, maar staak haar studies toe sy in Maart 1947 na Londen vertrek, waar sy aan die Camberwell School of Arts and Crafts studeer en joernalistieke bydraes vir Die Burger en die BBC lewer. Sy gee ook vir ’n rukkie Afrikaanse klasse aan Engelse emigrante. Later sluit haar man by haar aan. Daarna gaan hulle na Amsterdam waar sy verdere onderrig in die grafiese kunste ontvang. Hier werk sy vanaf 1948 tot 1955 met talle onderbrekings by Radio Nederland in Hilversum, waar sy help met veral Afrikaanse programme. Vir ’n ruk beklee sy ook ’n pos by die Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag. Sy leer ken ’n hele aantal later leidende letterkundiges (Merwe Scholtz, T.T. Cloete, Ernst Lindenberg, F.I.J. van Rensburg en Elize Botha) en woon Van Wyk Louw se lesings oor die Afrikaanse literatuur by. Sy en Van Wyk Louw begin met ’n ernstige verhouding in die tyd wat Louw se vrou nog nie by hom aangesluit het nie en Stoffel Nienaber per skip terug is Suid-Afrika toe vir sy vader se begrafnis. In Augustus 1950 skei sy van Stoffel Nienaber. Haar verhouding met Louw duur etlike jare op ’n aan-en-af basis, hoewel hy nie van sy vrou skei nie. In die loop van 1953 ontmoet sy die Spanjaard Juan de Saladigras wanneer hy by die Spaanse diens van Radio Hilversum begin werk en ’n verhouding ontstaan later tussen hulle. In 1955 besoek sy Suid-Afrika nadat haar twintigjarige broer André op 21 Maart 1955 in ’n woonstel in Kaapstad deur ’n swanger 21-jarige vrou doodgeskiet is sowat twee weke nadat hy die verhouding verbreek het. Die vrou word later onskuldig bevind aan moord. Sheila spandeer meer as ’n jaar in Suid-Afrika en vertrek eers op 28 Desember 1956 per skip terug na Europa, waar sy op 17 Januarie 1957 in Amsterdam aankom. Tydens haar besoek illustreer sy self haar kinderverhaal, “Dawie Dagster en die Eenoogkinders”, wat egter verlore raak. Terug in Europa gaan sy op 16 Mei 1957 formeel tot die Rooms-Katolieke geloof oor en laat haar eerste huwelik in die oë van die kerk ongeldig verklaar. In Junie 1956 trou sy met Juan de Saladrigas.[5] Hulle vestig hulle in Estartit, ’n kusdorp in die provinsie van Barcelona in Spanje.[6] Later verhuis hulle na Canet in Katalonië en dan na Barcelona in die huis Immaculada wat sy self ontwerp. Twee seuns, Jordi en Jaime, word uit hierdie huwelik gebore.
Verminking
[wysig | wysig bron]In 1974 doen sy ernstige brandwonde op na ’n ontploffing van ’n gasstoof in haar vakansiehuis op die Costa Brava op Estartit. Sy word drie dae na die ongeluk eers deur haar seun gevind en moet ’n reeks veloorplantings en amputasies ondergaan (drie vingers aan elke hand en haar regterbeen bo die knie word afgesit). Sy bring ’n periode van twee jaar in die hospitaal deur en moet onder andere weer van vooraf leer skryf en met die kunsbeen leer loop. Na haar herstel sit sy haar werk as digter en skilder voort. Sy word deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie uitgenooi om in 1979 die boekeveiling van die Afrikaanse radiodiens by te woon en bring sodoende haar eerste besoek in tien jaar aan Suid-Afrika. In hierdie jaar stuur sy ook haar jongste seun, Jaime, na Suid-Afrika met die opdrag om ’n ruk hier te woon en werk.[7]
Terugkeer na Suid-Afrika
[wysig | wysig bron]Sedert 1982 is sy van haar man vervreem en woon sy in die St. Martini- woonstelgebou in Tuine in Kaapstad. Vanaf 1983 tree sy vir twee jaar as leidster op by die “letterkundige laboratorium” van die Universiteit van Stellenbosch en is sy dikwels gasspreker by die Universiteit van die Wes-Kaap. Haar werk in hierdie tyd word veral gekenmerk deur die deurleefde religieuse aard daarvan. ’n Spesiale dokumentêre program oor haar lewe en werk word in 1984 gemaak en oor televisie uitgesaai. Weens slaaploosheid kry haar gesondheid weer ’n knak en sy verlaat in Desember 1985 tydelik die land om in Spanje te herstel en by te wees by die geboorte van haar eerste kleinkind, waarna sy in 1986 weer terugkeer na Kaapstad. In die vier maande voor haar vertrek na Spanje woon sy aan huis van die digter Phil du Plessis. Benewens haar skryfwerk is sy regdeur haar lewe ook kunstenaar wat aanhou met skilder en teken. Vanaf 1997 tot met haar dood word sy in die Katolieke inrigting Nazareth House in Vredehoek, Kaapstad, versorg. Sy is op 25 November 2004 in Nazareth House oorlede.[3]
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Poësie
[wysig | wysig bron]Op sesjarige ouderdom verskyn haar eerste kinderversies in Die Jongspan en in die ATKV se amptelike tydskrif. Kort daarna begin sy om haar eie stories en versies te illustreer. Aanvanklik skryf sy beide Engelse en Afrikaanse gedigte. Haar eerste werk verskyn reeds in 1937 in Die Taalgenoot, waarna sy sporadies publiseer in Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, Die Huisgenoot, Naweek, NUSAS en later ook in Engels en Afrikaans in onder andere Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde en Ensovoort.[8] Hoewel van haar gedigte in 1946 in Stiebeuel opgeneem word, wy sy haar aanvanklik meer toe op haar skilderkuns as skryfwerk.[9] W.E.G. Louw beskou haar gedigte in Stiebeuel as die “gaafste en suiwerste” in die bundel. In dieselfde jaar trek sy ook die aandag met haar illustrasies vir C.J.M. Nienaber se novelle Keerweer. Hierna hou sy aan met dig en skryf veral baie gedigte tydens haar verblyf in Nederland in die vroeë vyftigerjare. Reeds in 1954 het sy ’n digbundel gereed vir publikasie, getitel Dekade 1943–1953, wat sy aan Nasionale Boekhandel voorlê vir publikasie. Eindelik besluit sy om dit op Opperman se aanbeveling terug te hou en geen van hierdie gedigte word in haar debuutbundel opgeneem nie. Engelse vertalings van sommige van hierdie gedigte verskyn in 1968 in The Penguin book of South African verse.
In 1970, vier en twintig jaar na Stiebeuel, maak sy ’n indrukwekkende debuut met Plektrum. In die bundel word ’n hele paar van die temas wat regdeur haar oeuvre voorkom, reeds aan die bod gebring: die religieuse en soeke na betekenis; die spel van kosmiese kragte as beeldbron en projeksie vir religieuse en persoonlike ervaring; en die openbaring van die metafisiese en die skilderkuns as stimulus vir kreatiwiteit en bron vir haar digkuns.[10][11] Plektrum word in 1971 met die Ingrid Jonker-prys en die Eugène Marais-prys en in 1972 met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon.[12]
Cussons se grootste digterlike[13] uitsette word egter eers gelewer ná haar ongeluk, wanneer sy in bietjie meer as tien jaar tien digbundels die lig laat sien. Sy erken in ’n onderhoud met ’n koerant dat die twee jaar wat sy in die hospitaal deurgebring het en die pyn wat sy moes deurmaak, eintlik ’n tyd van geboorte vir haar was.[14] Vir die eerste keer het dinge losgekom uit haar verlede wat sy kon verwoord en het sy besef dat pyn ’n mens se bestaan voltooi, aangesien dit daardeur is wat mens die vreugde werklik kan ken en waardeer. Ook het sy nou ware menseliefde ontdek en ’n groter insig gekry in die menslike psige. Die swart kombuis[15] is die eerste van die bundels na haar ongeluk en openbaar haar vermoë om die heiligheid wat in die alledaagse skuil te sien en te verwoord.[16] God word gesien as ’n soort magneet wat die mens nadertrek, maar dan wyk sodat die mens nog nader kan kom, altyd nader, sodat die mistiek wat verwoord word, is soos wat ’n gelouterde mens dit belewe.[17][18]
In Verf en vlam[19] gebruik die spreker meermale skilders en ander figure wat ’n moeilike lewe gehad het om inspraak te maak op die eie lewe en werk en lyding. Laatmiddagson oor die siënna-bruin vloer verwoord die heiligheid van die aarde.[14] Dit word bereik deur ’n mistieke belewing van die brandende, gloeiende son, en deur ’n verband te trek met kunstenaars soos Daumier, Van Gogh, Goya en Da Vinci wat hierdie wêreld en sy mense geskilder het.[15] Die vlammende vuur van die Goddelike word telkens terug gevind in die verf van die aardse, soos die titel van die bundel reeds aandui.[16][20]
Die skitterende wond en Die sagte sprong word gelyktydig uitgegee en staan weer sterk in die teken van die uitgryp na die mistieke ekstase van die eenwording met Christus. Die skitterende wond [21] se paradoksale titel dui reeds daarop dat ’n mens dikwels deur die ervaring van pyn tot nuwe perspektiewe kan kom en sluit aan by die teenstelling van lig en donker in “verf en vlam”.[14] Die beeld wat deur die titel opgeroep word, is ontleen aan Thomas van Aquinas.[22] Na sý voorbeeld is hier ’n erkenning dat geloof en rede beide as kenbronne van die waarheid aanvaar kan word.[23][24][25]
In Die sagte sprong [26] word hoofsaaklik oor aardse dinge (soos boom, vuur, wind, ’n snytjie brood, ’n koekie seep) besin, wat lei tot insigte oor onder meer die reddingsplan van God en die mistieke eenwording.[27] In die titelgedig word verklaar dat skielike insig vergelyk kan word met ’n sagte sprong.[14] Die klem val in hierdie bundel op die vervulling in die mistieke, selfs in alledaagse dinge.[28][29]
Die somerjood[30] sluit aan by die tematiek van die vorige bundels maar is in ligter trant,[31] waar benewens die religieuse en mistieke veral verse is oor skilders en skilderye, met sterk aksent op kleur.[32][33] Die somerjood is in 1981 op die kortlys vir die toekenning van die Louis Luyt-prys.
Die woedende brood[34] se dualistiese titel verwys na die woede van God oor die val van die mens en die brood as lewensgewende simbool, sodat ondergang en redding, oordeel en genade teenoor mekaar geplaas word. Hierdie vernuftige gebruik van die teenstelling of paradoks sorg vir hoogtepunte in verskeie verse.[35] Die bundel staan weer in die teken van die religieuse en ondersoek onder andere die verskynsel van mirakels. In wese word die mens en alles hier getransfigureer en kom dit tot rus en word dit eindelik opgeneem in God, met die element van vuur wat weereens simbool word van hierdie opname.[36] Die titelgedig is ’n hoogtepunt met sy beelding van die gewone, daaglikse brood wat die hardwerkende arbeiders na kan uitsien en wat hulle aan die lewe hou.[37] Die woedende brood ontvang in 1981 die C.N.A.-prys en in 1982 die W.A. Hofmeyr-prys en die Louis Luyt-prys.
In Omtoorvuur word ’n keuse van haar gedigte gemaak en word verskeie ongepubliseerde gedigte ook ingesluit, waarvan sommige uit die veertigerjare dateer. Haar eie tekeninge illustreer die bundel.[38]
Verwikkelde lyn[39] sit die ietwat ligter aanslag van Die somerjood voort en hier gaan dit minder oor God as verterende vuur en meer oor God as Lig en Vriend.[40] Die gedigte slaag daarin om gewone dinge en verskynsels te transfigureer na die mistieke en huiwer selfs nie om plat,[41] aardse dinge in hierdie verband te gebruik nie. Hierdie bundel het nog grootliks die Mediterreense wêreld van Spanje as agtergrond.[42]
Die Hertzogprys vir poësie word in 1983 aan haar toegeken vir al haar werk (Plektrum, Die swart kombuis, Verf en vlam, Die skitterende wond, Die sagte sprong, Die somerjood, Die woedende brood en Verwikkelde lyn).
Membraan[43] sit steeds die passievolle gesprek met God voort en die bundel, wat haar eerste bundel is wat in sy geheel in Kaapstad geskryf is,[44] bevat ook beskrywings van die plaaslike natuurskoon en die aard van haar lewe terug in haar vaderland.[45]
Sy vertaal van haar gedigte self in Engels en dit word in 1985 uitgegee as Poems.
Die heilige modder [46] word doelbewus in meer toeganklike vorm geskryf met formulerings wat eenvoudiger is, hoewel die tematiek nie veel verandering ondergaan nie. Die bundel word oorheers deur gedigte met religieuse besinning.[47]
Haar oeuvre word afgesluit met Die knetterende woord, waarin sy vir een van die min meertalige bundels in Afrikaans sorg. Die meeste verse is in Afrikaans, sommiges is in Engels en Spaans (met Afrikaanse vertalings) en in die gedig Pour un jeune homme gai vloei Afrikaans en Frans ineen. Die religieuse oorheers weer in hierdie bundel, wat ook verskeie kunsteoretiese gedigte bevat. Sarai beskryf die vrou van Abraham en Triomf het die feitlik osmotiese versmelting van poësie met God as tema. Palimpses 1 – Die vraag kom tot die gevolgtrekking dat Lucifer se val deur selfliefde veroorsaak is, maar die kwelvraag oor waar en hoe hierdie selfverheerliking ontstaan het, bly. Ook die aardse en vleeslike word beskryf, soos in Ouer non, wat worstel met die aantreklikheid van ’n jong man.[48] In 1991 word die W.A. Hofmeyr-prys toegeken aan Die knetterende woord en hierdie bundel word in 1990 ook genomineer vir die Rapportprys.
’n Engel in my kop[49] is ’n keuse uit haar religieuse gedigte,[50][51] terwyl Die asem wat ekstase is ’n keur uit haar nie-religieuse verse is.[52] Na haar dood word meer as honderd voorheen ongepubliseerde gedigte van haar ontdek, wat 36 verse insluit wat oorspronklik weggelaat is ten tye van die publikasie van Die skitterende wond. In hierdie gedigte kom naas ander perspektiewe ook ’n voorheen feitlik onbekende faset van haar digkuns, naamlik haar politieke stem, na vore en is navorsers getref deur die visioenêre insigte wat hierin verwoord word. Petra Müller is so beïndruk deur die ongepubliseerde gedigte wat uit Die skitterende wond weggelaat is, dat sy aanvanklik meen dat dit ’n eie afsonderlike publikasie regverdig. Met die samestelling van haar Versamelde gedigte word hierdie ongepubliseerde verse almal oorweeg vir opname. Benewens die 36 verse weggelaat uit Die skitterende wond is daar ook ses gedigte wat bedoel was vir Die swart kombuis, nege vir Verf en vlam, agt vir Die sagte sprong en een vir Die somerjood.[53][54][55] Altesaam 46 voorheen ongepubliseerde verse is gevind, asook een wat in die tydskrif Ensovoort verskyn het en nie gebundel is nie. Daar is ook die verse in haar eerste manuskrip, Dekade 1943–1953 en ’n aantal verse wat sy tot kort voor haar dood geskryf het. Altesame 143 gedigte is dus gevind wat nie in bundels verskyn het nie en hieruit het Petra Müller en George Louw eindelik 72 gekeur vir opname in hierdie bundel, met die res wat beskou is as onafgewerk. Al haar gedigte, ook die onvoltooides, lê ter insae vir bona fide-navorsers by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein en in die Dokumentasiesentrum van die Universiteit van Stellenbosch se J.S. Gericke Biblioteek.
Van haar gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Digters en digkuns, Faune, Die dye trek die dye aan, Woordpaljas, Afrikaanse natuurpoësie, Miskien sal ek die wingerd prys, Kraaines, Liggaamlose taal, Verse vir Opperman, Majesteit, die kat, My Afrikaanse verseboek, Die goue vreugde, Voorspraak en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. In 2020 word agt van haar gedigte in Vers en vrou opgeneem.[56]
Gerrit Komrij vertaal van haar verse in Nederlands[57] en publiseer dit in 2007 onder die titel De schitterende wond.
Prosa
[wysig | wysig bron]Die kortverhale wat in Gestaltes 1947[58] verskyn is reeds in die veertigerjare geskryf en dit is jammer dat dit nie toe reeds gepubliseer is nie, want dit sou ongetwyfeld ’n nuwe geluid in daardie tyd se prosa gewees het, lank voor die Sestigers. In hierdie werk gee sy op liriese wyse uiting aan die geesteswêreld van die fantasieryke kind, wat met verwondering kennis neem van die wêreld en veral sy natuur en veelvuldige bewoners, werklik en verbeeld.[59] So gee sy gestalte aan haar innerlike, met die eindelik besef dat werklik onthou onmoontlik is en dat die mens deel vorm van die groot onthou, slegs een klein bewussyn in die groot geheue. Hierdie prosa gee aanduiding van Cussons se kreatiewe gebruik van die sintuie en verbeelding, wat met poëtiese taal weergegee word.[60] Hennie Aucamp neem drie fragmente van hierdie werk op in die versamelbundel Blommetjie gedenk aan my en identifiseer dit as uit die manuskrip Tot dusver: ’n jeugrelaas, die oorspronklike titel. Ook uit Gestaltes 1947 neem Aucamp fragmente op in Vuurslag, sy versamelbundel van kort-kortverhale. In Standpunte van Augustus 1970 publiseer Cussons die kort skets Veo, veo oor die lewe op die Spaanse platteland. Sy vertaal Jorge Luis Borges se kortverhale uit Spaans in Afrikaans as Die vorm van die swaard en ander verhale.[61][62]
Toekennings en eerbewyse
[wysig | wysig bron]Amanda Botha voer in 1983 in die program Vrouerubriek in die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika ’n reeks geselsies met haar oor haar werk en in 1984 word ’n dokumentêre program oor haar lewe en werk verfilm om oor televisie uitgesaai te word. In 1983 word ’n spesiale tentoonstelling van haar kunswerke tot haar eer deur die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging in Kaapstad gehou. ’n Dokumentêre program oor haar lewe en werk word in 1984 gemaak en oor televisie gebeeldsaai. Die Universiteit van Natal in 1992 en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in 1996 ken eredoktorate aan haar toe vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Sy word ook verskeie kere vereer deur spesiale opvoerings van haar werk. In 1998 word die multimedia-produksie Cussons se kombuis, geskep deur Charles Fourie, op die planke gebring by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees; in 2000 word die produksie Heilige modder onder regie van Gerben Kamper met teks deur Marc Hosten in Bloemfontein aangebied; in 2002 word haar skilder- en woordkuns by die Woordfees op Stellenbosch gevier en in 2002 word daar by die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein ’n huldigingsprogram vir haar aangebied. Sy ontvang in 2008 postuum ’n Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning, geborg deur die Departement van Kuns en Kultuur, vir haar lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde.
Toekennings[63]
[wysig | wysig bron]Jaar | Toekenning | Vir |
---|---|---|
1971 | Ingrid Jonker-prys
Eugène Marais-prys WA Hofmeyr-prys |
Plektrum
Plektrum Plektrum |
1982 | CNA-prys | Die woedende brood |
1983 | Hertzog-prys vir poësie | Haar hele oeuvre |
1991 | WA Hofmeyr-prys | Die knetterende woord |
Publikasies
[wysig | wysig bron]Digbundels
[wysig | wysig bron]Jaar | Titel van publikasie |
---|---|
1970 | Plektrum |
1978 | Die swart kombuis
Verf en vlam |
1979 | Die skitterende wond
Die sagte sprong |
1980 | Die somerjood |
1981 | Die woedende brood |
1982 | Omtoorvuur (Versameling uit eerste 6 bundels) |
1983 | Verwikkelde lyn |
1984 | Membraan |
1985 | Poems: a selection (Versameling) |
1988 | Die heilige modder |
1990 | Die knetterende woord |
1997 | ’n Engel deur my kop (Saamgestel deur Amanda Botha) |
2000 | Die asem wat ekstase is (Saamgestel deur Amanda Botha) |
2006 | Versamelde gedigte (Versameling) |
Fiksie
[wysig | wysig bron]Jaar | Titel van publikasie |
---|---|
1982 | Gestaltes 1947 |
As vertaler
[wysig | wysig bron]Jaar | Titel van publikasie |
---|---|
1981 | Die vorm van die swaard en ander kortverhale (Cussons se vertaligs van kort stories deur Jorge Luis Borges) |
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Sheila Cussons (1922–2004), Erika Terblanche, Litnet Geargiveer 26 Mei 2011 op Wayback Machine
- Die kunstenaarskap van Sheila Cussons, Amanda Botha, Litnet
- Sheila Cussons gedigte, Poëzieweb
- Sheila Cussons (1922–2004) Sanlam ATKV LitNet Afrikaanse Album Geargiveer 26 Mei 2011 op Wayback Machine
- Sheila Cussons: Die lyf as landskap Geargiveer 26 Mei 2011 op Wayback Machine
Bronne
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- Askes, H. en Landman, J.N. (samestellers) Voorspraak. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe Tiende druk 1994
- Beukes, W.D. (red.) Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe eerste druk 1992
- Botha, Elize en Pretorius, Réna (reds.) Samehang en sin. Tafelberg-Uitgewers Kaapstad Eerste druk 1983
- Britz, E.C.; Kannemeyer, J.C. en Pheiffer, R.H. (reds.) Skanse teen de tyd. Tafelberg-Uitgewers BeperkKaapstad 1978
- Cloete, T.T. (red.) Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Nasou Beperk Eerste uitgawe 1980
- Cloete, T.T. Faune. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Derde druk 1971
- Cussons, Sheila Versamelde gedigte. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe 2006
- Gilfillan, F.R. Geel grammofoon. Tafelberg Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe 1985
- Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk1988
- Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984
- Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
- Kannemeyer, J.C. (red.) Kraaines. Human & Rousseau Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe 1988
- Kannemeyer, J.C. Verse vir die vraestel. Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998
- Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
- Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Academica Pretoria en Kaapstad Vierde uitgawe Eerste druk 1973
- Nienaber, P.J. en Lategan, F.V. Afrikaanse natuurpoësie. Afrikaanse Pers-Boekhandel Derde druk 1952
- Nienaber, P.J., Roodt, P.H. en Snyman, N.J. (samestellers) Digters en digkuns. Perskor-Uitgewers Kaapstad Vyfde uitgawe Sewende druk 2007
- Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
- Pheiffer, R.H. Woordpaljas. Human & Rousseau Kaapstad en Johannesburg Derde uitgawe Derde druk 1993
- Spies, Lina. Ontmoetings. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1979
- Steyn, J.C. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel I. Tafelberg-uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998
- Steyn, J.C. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel II. Tafelberg-uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998
- Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 2. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1999
- Van Zyl, Wium. Sheila Cussons (1922-). in Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 1. J.L.van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
Tydskrifte en koerante
[wysig | wysig bron]- Anoniem. Sheila Cussons (82) sterf. Beeld, 26 November 2004
- Botha, Amanda. Sheila Cussons terug in SA. Die Transvaler, 16 Junie 1982
- Botha, Amanda. Sheila Cussons. Kakkerlak. Uitgawe 7, 2007
- Botha, Amanda. Sheila Cussons se vreugde, verdriet. Rapport, 15 Desember 1985
- Botha, Amanda. Boekeseks: Sheila Cussons antwoord. Insig, Januarie 1999
- Botha, Amanda. ’n Natalse vriendekring wat ver gereik het. Boekewêreld, 17 November 1999
- Botha, Amanda. Afrikaans is geseënd. Rapport, 11 Augustus 2002
- Botha, Amanda. Sheila se seuns. Insig, Januarie/Februarie 2005
- Botha, Amanda. ’Verlore’ Cussons-verse ontdek. Insig, Junie 2006
- Botha, Amanda. Om die blik op die deur te hou. By, 23 Februarie 2013
- Botha, Elize. W.A. Hofmeyr-prys vir 1982. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 1, Februarie 1982
- Breytenbach, Kerneels. Ontmoeting met ’n ‘klein mirakel’. Kalender, 26 April 1982
- Bruwer, Johan. Alledaagse vensters op ’n ander wêreld. Rapport, 19 Augustus 1979
- Bruwer, Johan. Prys vir Sheila ’n stimulans. Rapport, 28 Maart 1982
- Bruwer, Johan. Nou sit Cussons se engeltjie op hurke en speel. Rapport, 26 Junie 1983
- De Villiers, D.W. Christus as die avontuur van vuur. Standpunte. Nuwe reeks 160, Augustus 1982
- De Villiers, D.W. Vuur as suiweraar by Sheila Cussons. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 4, November 1982
- Du Plessis, Bertie. Cussons dig ’n venster oop op die ewigheid. Die Burger, 13 April 1991
- Du Toit, Tania. So onthou ek Sheila Cussons (1922–2004). Kakkerlak. Uitgawe 1, 2004
- Engelbrecht, Theunis. Cussons het duiselend uitgereik na die Onsêbare. Rapport, 28 November 2004
- Fryer, Charles. Cussons bly uitreik na die Onsêbare. Die Burger, 8 Augustus 1992
- Galloway, Francis. Die rigting van die wandeling in Sheila Cussons se ‘Antieke wandeling’. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 4, November 1982
- Gouws, Tom. As die tjalie so argloos, listig sak…Insig, Oktober 1990
- Kannemeyer, J.C. Cussons ‘aangemoedig, nie teruggehou’. Plus, 20 Augustus 2002
- Kuschke, Gudrun. Verandering en vernuwing by Sheila Cussons: Poëtiese uiting van die Christelike etos I. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 4, November 1982
- Kuschke, Gudrun. Verandering en vernuwing by Sheila Cussons: Poëtiese uiting van die Christelikeetos II. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 1, Februarie 1983
- Lategan, Herman. Drie digters onthou ek nou tesame. By, 9 April 2011
- Le Roux, André. Sheila Cussons. Die Burger, 11 Junie 1988
- McCreath, Anita. Slegs ’n geval van agtergrond: Drie gedigte se gemene deler. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 35 no. 2, Mei 1998
- Mulder-Stagger, Roelien. Sheila Cussons – Emily Brontë. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 2, Mei 1983
- Nienaber, C.J.M. In Deum transiit? Net nog nie. Standpunte. Nuwe reeks 160, Augustus 1982
- Pieterse, H.J. Pen en penseel: Die rol van die skilderkuns in die poësie van Sheila Cussons. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 28 no. 3, September 1988
- Scholtz, Merwe. Verruk en verras. Die Burger, 18 Oktober 1983
- Smith, Francois. Mistieke blom van die aarde. Plus, 17 Augustus 2002
- Snyman, N.J. Libelli: Abélard en Heloïse. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 32 no. 2, Mei 1994
- Spangenberg, D.F. By die toekenning van die Louis Luyt-prys vir letterkunde aan Sheila Cussons. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 2, Mei 1982
- Spies, Lina. Kluitbeklam na die lig. Beeld, 27 November 2004
- Van Deventer, Susanne. Vier voorgeskrewe gedigte uit ‘Senior keur’.Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 32 no. 1, Februarie 1994
- Van Heerden, Ernst. Kilroy was hier. Insig, Oktober 1988
- Van Zyl, Wium. Van jokjakarta’ tot ‘Die ballade van die onwaarskynlike seun’. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 28 no. 3, Augustus 1990
- Van Zyl, Wium. Digter van ’n ewige jeug. Rapport, 11 Augustus 2002
- Vorster, Roelof. Sheila nie spyt oor ramp. Rapport, 8 Augustus 1982
- Wessels, Lydia. Gedigte vir dié wat nog kom. Insig, Junie 1988
Internet
[wysig | wysig bron]- Du Plessis, Bertie Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1991/04/4/2/13.html Geargiveer 29 Mei 2011 op Wayback Machine
- Du Plessis, Bertie Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1991/04/13/7/1.html
- Engelbrecht, Theunis Rapport: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2004/11/28/R1/37/05.html
- Rapport: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2002/08/11/13/14.html
- Smith, Francois Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2002/08/17/2/20.html
- Spies, Lina Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2004/11/27/B5/08/02.html Geargiveer 3 Julie 2011 op Wayback Machine
- Volksblad: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2004/11/26/VX/2Ak/02.html
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ https://www.geni.com/people/Sheila-Cussons/6000000029681049040
- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ 3,0 3,1 News24.com: http://www.news24.com/Entertainment/SouthAfrica/Sheila-Cussons-dies-20041126 Geargiveer 17 Julie 2012 op Wayback Machine
- ↑ http://www.oulitnet.co.za/seminaar/cussons.asp
- ↑ "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 April 2016. Besoek op 12 September 2016.
- ↑ http://www.esaach.org.za/index.php?title=Cussons,_Sheila
- ↑ http://johanndelange.blogspot.co.za/2010/05/sheila-cussons-fabrieksgeheime.html
- ↑ http://www.sahistory.org.za/people/sheila-cussons
- ↑ Louw, W.E.G. “Van die stiebeuel in die saal” “Standpunte” Jaargang 2, no. 1, 1946
- ↑ Brink, André P. “Voorlopige Rapport” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976
- ↑ Coetzee, A.J. “Standpunte” Nuwe reeks 100, April 1972
- ↑ "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Junie 2017. Besoek op 12 September 2016.
- ↑ Brink, André P. Rapport, 9 Julie 1978
- ↑ 14,0 14,1 14,2 14,3 Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad Pretoria Johannesburg Eerste uitgawe 1980
- ↑ 15,0 15,1 Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 17 no. 3, Augustus 1979
- ↑ 16,0 16,1 Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 19 no. 3, September 1979
- ↑ Lindenberg, Ernst. Die Transvaler, 29 Julie 1978
- ↑ Scholtz, Merwe. Die teken as teiken. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1978
- ↑ Brink, André P. Rapport. 5 November 1978
- ↑ Roodt, P.H. Die Transvaler. 6 Januarie 1979
- ↑ Brink, André P. Rapport. 19 Augustus 1979
- ↑ http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/viewFile/994/1166
- ↑ Cloete T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 18 no. 1, Februarie 1980
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 20 no. 2, Junie 1980
- ↑ Steenberg, D.H. Die Transvaler, 1 Desember 1979
- ↑ Brink, André P. Rapport, 19 Augustus 1979
- ↑ Cloete T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 18 no. 1, Februarie 1980
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 20 no. 2, Junie 1980
- ↑ Steenberg, D.H. Die Transvaler. 1 Desember 1979
- ↑ Brink, André P. Standpunte. Nuwe reeks 154, Augustus 1981
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 21 no. 2, Junie 1981
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 19 no. 2, Mei 1981
- ↑ Grové. A.P. Beeld. 18 Augustus 1980
- ↑ Brink, André P. Standpunte. Nuwe reeks 161, Oktober 1982
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 22 no. 2, Junie 1982
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 3, Augustus 1982
- ↑ Johl, Ronel. Die Transvaler. 7 September 1981
- ↑ Brink, André P. Rapport. 22 Augustus 1982
- ↑ Brink, André P. Rapport. 5 Junie 1983
- ↑ Nienaber-Luitingh, M. Standpunte. Nuwe reeks 169, Februarie 1984
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 22 no. 4, November 1984
- ↑ Gilfillan, F.R. Die Burger. 5 Mei 1983
- ↑ Brink, André P. Rapport. 5 Augustus 1984
- ↑ De Villiers, D.W. Die Burger. 26 Julie 1984
- ↑ Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 23 no. 2, Mei 1985
- ↑ Grové, A.P. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 30 no. 3, September 1990
- ↑ Lindenberg, Ernst. Rapport. 21 Augustus 1988
- ↑ Van Zyl, Wium “Rapport” 2 Desember 1990
- ↑ Hambidge, Joan. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 35 no. 4 en Jaargang 36 no. 1, November 1997/Februarie 1998
- ↑ Malan, Lucas. Rapport, 28 September 1997
- ↑ Viljoen, Louise. Insig, Desember 1997
- ↑ Grové, A.P. Beeld. 26 Junie 2000
- ↑ Brink, André P. By, 4 November 2006
- ↑ Hambidge, Joan: http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/02/sheila-cussons-versamelde-gedigte-2006.html
- ↑ De Lange, Johann. Rapport, 26 November 2006
- ↑ De Wet, K. (samest.) “Vers & vrou” 2020 Kaapstad: Human & Rousseau
- ↑ Aucamp, Hennie. Rapport, 16 September 2007
- ↑ Brink, André P. “Rapport” 22 Augustus 1982
- ↑ Smuts, J.P. Die Burger, 16 September 1982
- ↑ Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985
- ↑ Aucamp, Hennie. Die Transvaler, 29 Maart 1982
- ↑ Visagie, Andries. Tydskrif vir Letterkunde, Jaargang 35 no. 2, Mei 1998
- ↑ "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 November 2015. Besoek op 12 September 2016.