Helen Joseph
Helen Joseph | |
---|---|
Helen Joseph in 1941 | |
Gebore | Helen Beatrice May Fennell 8 April 1905 |
Sterf | 25 Desember 1992 (op 87) |
Nasionaliteit | Engeland |
Beroep | Maatskaplike werker en politieke aktivis. |
Bekend vir | Die Vroue-optog van 9 Augustus 1956 |
Helen Beatrice May Fennell (8 April 1905 - 25 Desember 1992) is in Sussex, Engeland gebore. Sy het in Londen grootgeword saam met haar ouers en broer, Frank. Sy behaal 'n graad in Engels aan die Universiteit van Londen in 1927. Daarna het sy vir drie jaar in Indië, by Mahbubia Skool, 'n skool vir meisies in Hyderabad, gestudeer. Sy het in 1930 na Suid-Afrika verhuis, en haarself in Durban gevestig, waar sy getroud is met 'n tandarts, Billie Joseph.[1]
Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy 'n pos by die Klerewerkersunie (GWU) aanvaar, waar sy onder die invloed van Solly Sachs, Johanna Cornelius en Anna Scheepers gekom het. Helen was 'n stigterslid van die Congress of Democrats (COD), en nasionale sekretaresse van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FEDSAW) in die 1950's.
In 1955 was sy een van die leiers wat die klousules van die Vryheidsmanifes by die Congress of the People in Kliptown gelees het.[2] Die Vroue-optog op 9 Augustus 1956 was een van die mees onvergeetlike oomblikke van haar roemryke politieke loopbaan, aangesien sy een van die belangrikste organiseerders van die protes was.
Sy is in Desember 1956 in hegtenis geneem op 'n klag van hoogverraad, en in 1957 verban. Helen se lewe het 'n lang sage van polisievervolging gehad. Sy was die eerste persoon wat in 1962 onder huisarres geplaas is, en sy het verskeie sluipmoordpogings oorleef.
Joseph is met kanker gediagnoseer in 1971, en haar inperkingsbevelle is vir 'n kort tyd opgehef, voordat dit weer vir twee jaar in 1980 heringestel is. Joseph is op 25 Desember 1992 in Johannesburg oorlede.
Helen Joseph het die ANC se hoogste toekenning, die Isitwalandwe/Seaparankoe-medalje, vir haar toewyding aan die vryheidstryd teen apartheid ontvang.
Straat- en Plekname
[wysig | wysig bron]Helen Josephstraat (voorheen Kerkstraat, vanaf Nelson Mandelarylaan tot by Kerkplein) in Pretoria is in 2012 na haar genoem.[3]
Die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg, 'n koshuis by die Rhodes-universiteit, Grahamstad, en 'n pad in Rustenburg is ook na haar genoem.[4]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "SA History Online: Helen Joseph" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 12 Maart 2016.
- ↑ "SA History Online: The Congress of the People, Kliptown 1955" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2016. Besoek op 12 Maart 2016.
- ↑ "ShowMe: Pretoria's new street names" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Maart 2019. Besoek op 12 Maart 2016.
- ↑ "Helen Joseph House" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Oktober 2018. Besoek op 12 Maart 2016.