Hein Swart
Frank Heinrich Swart, ’n Suid-Afrikaanse skrywer, is op 17 Februarie 1943 in Kaapstad gebore, waar hy grootword en skoolgaan. Sy belangstelling in skryfwerk ontstaan gedurende sy studentedae op Stellenbosch, hoewel hy eers later meer ernstig begin skryf.
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Hy studeer in die handelswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal in 1963 die B.A. Handel-graad met Ekonomie en Bedryfsekonomie as hoofvakke. Hierna doen hy sy verpligte militêre diensplig in Pretoria by die Suid-Afrikaanse Lugmag en aanvaar dan in 1966 'n betrekking op die finansiële redaksie van Die Burger in Kaapstad,[1] waar hy later ekonomiese redakteur en parlementêre verslaggewer word. Intussen studeer hy deeltyds verder deur die Universiteit van Suid-Afrika in Afrikaans-Nederlands en hy skryf in 1974 die derdejaarskursus in hierdie vak af. Ná sy aftrede stig hy Litteratus-Uitgewers, wat sy eie boeke hierna uitgee, en hy dien ook gereeld op die paneel wat die jaarlikse pryse vir finansiële joernalistiek in Suid-Afrika beoordeel.[2] Hy tree in 1968 in die huwelik met Anna Buckle van Stellenbosch.
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Hy debuteer in 1974 met die digbundel “Praathuis”,[3] wat in drie afdelings ingedeel is.[4] Die titel van die bundel kry dimensie wanneer dit met die parlement verbind word, waar ongeregtighede teen sekere bevolkingsgroepe bepraat en besluit word. Die eerste afdeling (“Oor skewe koppe en reguit vingers”) is verset teen die wêreld soos die spreker dit sien, 'n wêreld waarvan hy nie hou nie. Verset teen die wêreld word ook 'n verset teen die mense daarin. Die tweede afdeling (“Spotvoëls met kruppel bene”) hou hom besig met die mens in hierdie wêreld, wat beide los staan van die wêreld en daarvan wil onttrek, maar terselfdertyd onlosmaaklik deel is daarvan. Die derde afdeling (“Klipmure treur ook”) bevat gedigte oor die treurige algemene toestand van die mens en die wêreld, wat dus meer romanties en sentimenteel van aard is. 'n Aantal verset gedigte word in kru taal beskryf om die onderliggende verderf te illustreer, terwyl die meer sentimentele gedigte soms fraai te werk gaan, sodat die sentiment eerder as die idee sentraal staan. Van sy gedigte word opgeneem in verskeie versamel bundels, insluitende “Groot verseboek”, “Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte”, “Voorspraak”[5] en “Woordpaljas”.[6] Die gedig “Oranjezicht-bus” word in Namibië voorgeskryf aan hoërskole vir Afrikaans as Eerste Taal onderrig.
Na aftrede skryf hy hoofsaaklik prosa. “Klutskloon”[7] is 'n roman waarin 'n geoloog in Israel afkom op 'n verskuilde grafkelder met oorblyfsels van die kruis waaraan Christus gesterf het, met genoeg bloed vir DNA-toetse. Hy is self steriel en reël met 'n ginekoloog dat ‘n genetiese materiaal van Christus in sy vrou se baarmoeder ingeplant word. Die kind wat gebore word, noem hy Jaycee. Volgens die persverklaring is die boek wetenskapfiksie oor die potensiële gevare van menslike kloning, maar die verhaal se fokus is eerder primêr gerig op die Christelike godsdiens. Hierdie roman verplaas Christus na die hede en maak in die proses op oneerbiedige wyse godsdiens af as geheel en al irrasioneel.
“Die Derde Mag”[8][8] is 'n futuristiese politieke roman, waar dit in 2014 lyk of die ANC deur die Swart Werkersparty (SW) onttroon gaan word, wat tot allerlei intriges lei. Die ekonoom en akademikus Fritz Dekker moet met 'n plan kom om stemme vir die regering te koop, maar die ANC kan slegs met die steun van minderheidspartye mag behou. Die SW probeer 'n staatsgreep, die kabinet maak hulleself uit die voete uit vrees vir hulle lewens en die president beveel Dekker om 'n skimkabinet aan te stel en te red wat daar te redde is. Dekker word aan alle fronte bedreig, met verraaiers in eie midde, terwyl hy tussendeur ook moet probeer om sy huwelik met sy erg neurotiese vrou te red.
“Moeraspadda” speel af in die sakewêreld. Die hoofkarakter is 'n gewetenlose sakeman wat op bedrieglike wyse geld van ander afrokkel en nie omgee wie of wat hy in die proses vertrap en verneuk nie. Selfs sy eie gesin word nie gespaar nie. Sy skoonseun besluit egter om iets hieraan te doen en dit loop uit op 'n verbete stryd tussen twee mans wat ewe vasberade is om beheer van die maatskappy te verkry.
Eerbewyse
[wysig | wysig bron]In 1992 en weer in 1993 bekroon die Verbruikersraad hom vir verbruikersjoernalistiek van hoogstaande gehalte en in 1996 wen hy die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Bill Venter-prys vir uitnemende Afrikaanse finansiële verslaggewing.
Publikasies
[wysig | wysig bron]- 1974 - Praathuis
- 2006 - Klutskloon
- 2007 - Die Derde Mag
- 2009 - Moeraspadda
Bronne
[wysig | wysig bron]- Swart, Hein “Lewenskets” Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein (ongepubliseerd)
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Cloete, T.T. (red.) “Die Afrikaanse literatuur sedert sestig” Nasou Beperk Eerste uitgawe 1980
- ↑ Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
- ↑ Brink, André P. “Rapport” 15 Desember 1974 Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 15 no. 2, Junie 1975
- ↑ Coetzee, Ampie “Beeld” 19 Februarie 1975 Spangenberg, D.F. “Tydskrif vir Letterkunde” Nuwe reeks 13 no. 4, November 1975
- ↑ Askes, H. en Landman, J.N. (samestellers) “Voorspraak” Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe Tiende druk 1994
- ↑ Pheiffer, R.H. “Woordpaljas” Human & Rousseau Kaapstad en Johannesburg Derde uitgawe Derdedruk 1993
- ↑ John, Philip “Beeld” 24 Julie 2006 Van Biljon, Madeleine “Rapport” 21 Mei 2006
- ↑ 8,0 8,1 Roux, Jaybee “Beeld” 15 Oktober 2007